Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matrieks: Slaagsyfer styg met 3,1 persentasiepunte

Die nasionale matriekslaagsyfer vir 2018 het tot 78,2% verbeter, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Donderdagaand in Midrand bekend gemaak.

Angie Motshekga
Angie Motshekga kondig Donderdag die matriekuitslae in Midrand aan. Foto: Felix Dlangamandla

Dit is ’n verbetering van 3,1 persentasiepunte in vergelyking met die 75,1% wat in 2017 behaal is. Dié syfer sluit die leerlinge in wat voorheen gedruip het en nogtans na die volgende graad deurgesit is. Dié slaagsyfer sluit leerlinge in wat outomaties van gr. 11 na matriek deurgesit is.

“Vir die afgelope paar jaar het ons gesien dat die matriekslaagsyfer heeltyd deur die voormalige drumpel van 70% gebreek het. Die klas van 2018 moet geluk gewens word omdat hulle hierdie neiging voortgesit het,” het Motshekga gesê.

Die matriekuitslae wys dat die getal leerlinge wat in aanmerking kom vir voorgraadse studies van 28,7% (153 610) tot 33,6% (172 043) toegeneem het.

“Dit is die hoogste getal matrikulante nóg wat in die demokratiese Suid-Afrika universiteitsvrystelling gekry het,” het Motshekga gesê.

Dit kom nadat die departement in September aangekondig het dat matrikulante in 2018 enige vier keusevakke kan slaag om vir ’n voorgraadse universiteitsgraad in aanmerking te kom. In die verlede het slegs dié wat uitgesoekte keusevakke geslaag het, toelating gekry.

Die matriekuitslae begin stabiliseer.

Die getal leerlinge wat in aanmerking kom vir ’n nagraadse diploma is 141 700.

In 2018 is altesaam 157 880 onderskeidings behaal, minder as die 161 080 in 2017. Die provinsies wat die meeste onderskeidings opgelewer het, was KwaZulu-Natal (41 730), Gauteng (36 110) en die Wes-Kaap (24 820).

Die getal onderskeidings in die sleutelvakke soos wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, rekeningkunde en ekonomie het in vergelyking met 2017 met 4,6% tot 58 806 gedaal.

Gauteng is die provinsie wat die beste gevaar het met 87,9%, ’n verbetering van 2,8 persentasiepunte teenoor 2017. Die Vrystaat (87,5%) het die tweede beste gevaar, gevolg deur die Wes-Kaap (81,5%). Slegs Limpopo (69,4%) het minder as ’n 70%-slaagsyfer behaal. Die Oos-Kaap is een van vier provinsies wat uitgesonder is vir 'n slaagsyfer bo 70%.

Meer as 800 000 matrikulante het die matriekeindeksamen afgelê, wat volgens Motshekga die vierde grootste groep matrikulante tot nou is.

“Dit is die eerste groep waar ons as land 12 nuwe vakke, insluitend gebaretaal, aangebied het."

Sy het die 2018-matriekuitslae as ’n waterskeidingsoomblik beskryf.

“Die matriekuitslae begin stabiliseer. Meer moet egter gedoen word om doeltreffendheid en gehalte te verseker. Ons is nie die stadigste in die marathon nie. Ons het die hele resies voltooi en ons is trots daarop,” het Motshekga gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.