Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
‘Matriekuitslae skets nie ware toestand’

AfriForum sê hy neem met groot kommer kennis van die amptelike matriekslaagsyfer van 78,2% omdat dit nie die volledige prentjie van die land se onderwystoestand skets nie.

Só het Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, Donderdagaand ná die bekendmaking van die uitslae in ’n verklaring gesê.

Alana BaileyFoto: Argief

Op sy beurt het die VF Plus ook gesê die matriekuitslae is misleidend. Dié party sê die klem vir ’n suksesvolle onderwysstelsel moet op onderwys van gehalte wees, eerder as ’n goeie matriekslaagsyfer.

Baily sê ’n verslag van die departement van basiese onderwys dui aan dat 1 141 731 leerlinge in 2007 in gr. 1 in openbare skole was en 29 592 in onafhanklike skole.

“Volgens die statistieke wat die minister van basiese onderwys Donderdag bekend gemaak het, het altesaam 790 843 leerlinge hulle in 2018 vir die matriekeksamen ingeskryf.

“Dit beteken dat meer as 30% van 2007 se groep nie eens die matriekeksamen gehaal het nie, wat nog van geslaag het.

“Wanneer matriekuitslae jaarliks gevier word, fokus die departement op die prestasies van enkele individue en skole. Die jongmense wat egter uit die stelsel verdwyn, word sonder vaardighede gelaat waarmee hulle ’n betekenisvolle rol in die uiters mededingende arbeidsmark kan speel.

“Selfs die minister se verwysings na leerlinge wat bygestaan is om matriek te herhaal stel nie gerus nie – dit is ontstellend om te dink dat jongmense só lank in die skoolstelsel was voordat hulle betekenisvolle hulp gekry het.

Tammy WesselsFoto: Marietjie Gericke

“Voorts skep slaag- en toelatingsvereistes wat deurentyd verlaag word – soos wat pas weer die geval met toelatingsvereistes vir tersiêre studie was – die indruk dat selfs die groep wat slaag, toenemend minder het om aan werkgewers te bied,” sê Bailey.

Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum se globale mededingendheidsindeks vir 2017 en 2018 beklee Suid-Afrika die 114de plek onder 137 lande wat betref die gehalte van hoër onderwys en die 116de wat betref die gehalte van primêre onderwys.

“Die land se swak ekonomiese groeikoers en onaanvaarbaar hoë amptelike werkloosheidsyfer (27,5% in die derde kwartaal van 2018) kan nie verbeter as skoolverlaters wat die arbeidsmark betree, só gebrekkig met kennis toegerus word nie.”

Bailey beklemtoon dat die oplossing onder meer te vinde is in ’n groter aanbod van moedertaalonderrig, streng optrede teen ideologies gedrewe polariserende uitsprake en optrede (soos dié van Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi), meer doeltreffende kurrikulum-opsies, tydige aflewering van handboeke, die vasvat van onderwysvakbonde wat onderrig lamlê, die skep van meer opleidingsgeleenthede vir onderwysers, asook kragdadige aksie teen ’n gebrek aan dissipline onder leerlinge en onderwyspersoneel.

“Die toekoms berus op die gehalte van die land se onderwysstelsel – nie ’n kosmetiese herverdeling van eiendom of gimnastiek met slaagsyfers nie,” sê Bailey.

Tammy Wessels, jeugleier van die VF Plus, het in ’n verklaring gesê Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel met sy verlaagde standaarde en hoë uitvalsyfer is bloot te gebrekkig om leerlinge na behore voor te berei vir naskoolse opleiding en die arbeidsmark.

“Dit plaas 'n demper op die 2018-uitslae.”

Wessels sê die VF Plus wens leerlinge wat in moeilike omstandighede goed presteer het, geluk en bedank ook die toegewyde onderwysers wat te midde van talle uitdagings ’n positiewe verskil maak.

“Volgens ’n internasionale studie kan 78% van gr. 4-leerlinge nie behoorlik lees nie. Dit is ’n aanduiding van ’n mislukte onderwysstelsel.

“Onderwys word toenemend gesentraliseer om die ANC ideologies te dien. Dit marginaliseer almal wat na beter streef.

“Die ANC-regering prioritiseer die kunsmatige matriekslaagsyfer eerder as om die skoolkurrikulum se gehalte te verbeter, onderwysers beter toe te rus en moedertaalonderrig te bevorder,” sê Wessels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.