Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matriekuitslae: W-Kaapse slaagsyfer daal minste
Wes-Kaapse toppresteerders in verskillende afdelings saam met Debbie Schäfer, die provinsiale LUR vir onderwys. Van links is Ayabukwa Nombela, Daniel Gouws, Veren Naidoo, Sonja Jonkers, Sonica Roux en Schäfer. Foto: Verskaf

Terwyl die matriekslaagsyfer in alle provinsies ’n daling getoon het, het die Wes-Kaapse slaagsyfer die minste gedaal.

Sonica Roux van die Hoërskool Outeniqua in George was die derde beste presteerder van leerlinge in kwintiel 5-skole. Foto: Verskaf

Die provinsiale slaagsyfer was 2,4 persentasiepunt laer, terwyl die nasionale gemiddelde met 5,1 persentasiepunt gedaal het.

Die Wes-Kaapse slaagsyfer vir 2020 is 79,9%.

“Dit is verstaanbaar dat die slaagsyfer gedaal het te midde van die pandemie wat die skoolwêreld ernstig ontwrig het,” sê Debbie Schäfer, provinsiale LUR vir onderwys, Maandag in ’n verklaring.

“Hoewel daar ’n afname is, is daar baie dinge om te vier. Ten spyte van die inperking, die ontwrigting van die skoolkalender en die onsekerheid dwarsdeur die jaar het die gehalte van ons matriekuitslae weer eens verbeter, asook die algehele retensiekoers van gr. 10 af.”

Die Wes-Kaap is ook die tuiste van die derde beste presteerder in kwintiel-5 skole, asook die top-twee-leerlinge in wiskunde landwyd.

Sonica Roux van die Hoërskool Outeniqua in George is die derde beste presteerder onder leerlinge in kwintiel 5-skole, terwyl Daniel Gouws van die Hoërskool Hermanus en Veren Naidoo van die Rondebosch Boys High School onderskeidelik die eerste en tweede plek vir wiskunde in die land opgeraap het.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel en ek is baie opgewonde en dankbaar daaroor,” sê Daniel. Hy gaan vanjaar elektriese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer.

“Ek het dit glad nie verwag nie,” het Sonica Maandag gesê. “Ek is natuurlik baie bly en opgewonde, maar bowenal voel ek dankbaar en baie geseënd.”

Sy sê dit was uitdagend om in 2020 in matriek te wees. “Ons jaargroep het baie teleurstellings en onsekerheid deur die loop van die jaar ervaar, maar ek glo ons het sterker anderkant uitgekom. Ons het geleer om aanpasbaar te wees en die beste van moeilike omstandighede te maak.”

Sy gaan vanjaar medies op die US se Tygerberg-kampus studeer.

“Ek gaan medies studeer omdat dit ’n veld is wat aanhou groei en ontwikkel. Dis ’n uitdagende beroep waarin ’n mens heeltyd op jou voete moet kan dink. Ek weet nog nie waarin ek wil spesialiseer nie. Ek glo ’n mens moet eers al die verskillende rigtings eerstehands ervaar om ’n ingeligte besluit te kan neem.”

Ayabukwa Nombela van die Manzomthombo Secondary School in Mfuleni was die naasbeste presteerder in kwintiel 3-skole. Sonja Jonkers van die Jan Kriel-skool vir leerlinge met spesiale behoeftes in Kuilsrivier het ’n spesiale ministeriële toekenning ontvang.

Schäfer het dié groep toppresteerders in Kaapstad op ’n spesiale geleentheid vir die aankondiging van die matriekuitslae ontmoet.

Die Wes-Kaap het ’n rekordgetal leerlinge (43,8%) gehad wat universiteitsvrystelling verwerf het. Van die 51 633 kandidate wat verlede jaar in die Wes-Kaap matriek geskryf het, het 22 634 universiteitsvrystelling gekry.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. oorhandig ’n spesiale ministeriële toekenning aan Sonja Jonkers van die Jan Kriel-skool. Foto: Twitter/WCED

Die ander provinsies se slaagsyfers:

• Vrystaat: 85,1% (’n daling van 3,2 persentasiepunt teenoor die vorige jaar);

• Gauteng: 83,3% (3,5 persentasiepunt laer);

• KwaZulu-Natal: 77,6% (3,7 persentasiepunt laer); • Noordwes: 76,2% (10,6 persentasiepunt laer);

• Mpumalanga: 73,7% (6,6 persentasiepunt laer);

• Limpopo: 68% (5 persentasiepunt laer);

• Oos-Kaap: 68,1% (8,3 persentasiepunt laer); en

• Noord-Kaap: 66% (10,5 persentasiepunt laer).

Schäfer sê die Wes-Kaap kry dit steeds reg dat meer van die leerlinge wat gr. 10 skryf, twee jaar later hul matriekeksamen aflê.

“In die provinsie het 66,6% van ons leerlinge wat in 2018 in gr.10 was, vanjaar hul matriekeksamen geskryf – die hoogste persentasie in die land. Dit het die afgelope twee jaar geleidelik toegeneem.

“Daar is ook goeie nuus aan die wiskundefront, met ’n toename in die slaagsyfer vir sowel wiskunde (70,8%) as wiskundige geletterdheid (82,9%).

“Ek is baie trots op die klas van 2020 wat in hierdie moeilike omstandighede verkies het om hul matriekjaar enduit te sien. Dit is ’n getuienis van hul veerkragtigheid en toewyding, maar ook die harde werk en toewyding van hul onderwysers, wat onder geweldige druk was.

“Die innovasie wat ons in baie skole gesien het, was ongelooflik. Dit is ook ’n getuienis vir ons matriekouers op wie ons leerlinge vertrou het om hulle aan te moedig.”

Leerlinge kan Dinsdag hul uitslae by hul skole afhaal, die provinsiale onderwysdepartement se ??webwerf besoek of op Netwerk24 kyk.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Slaagsyer  |  Daling  |  Matrieks  |  Matriekuitslae:  |  Daal Die Minste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.