Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Mense ‘te krities’ oor Limpopo se slaagsyfer

Stan Mathabatha, premier van Limpopo, sê “mense is te krities jeens die provinsie” omdat dit vanjaar die laagste matriekslaagsyfer van al nege die provinsies in die land het.

Hy het Vrydag by The Ranch-hotel buite Polokwane op die prysuitdeling vir die topmatriekpresteerders gesê al is Limpopo se slaagsyfer 69,4% is dit ’n 3,8%-verbetering op 2017 toe die slaagsyfer 65,6% was.

“Die verbetering in die slaagsyfer is danksy deursettingsvermoë en harde werk.”

Anthel Mavhina (18) van die Mbilwi Secondary School is een van Limpopo se topmatriekpresteerders. Foto: MARIETIE LOUW-CARSTENS

Mathabatha het gesê daar moet onthou word dat die departement van onderwys in Limpopo “nie so lank gelede nie” nog onder administrasie was. Dit was van Desember 2011 tot in 2014 van krag – dus vyf jaar gelede.

Hy het ook die skuld vir die swak slaagsyfer aan die handboeksage, waar derduisende leerlinge nie betyds handboeke ontvang het nie, toegeskryf. Dit het egter sewe jaar gelede in 2012 gebeur.

“Die meeste van dié goed is nou iets van die verlede,” het Mathabatha gesê.

Hy en Ishmael Kgetjepe, LUR vir onderwys, is hoopvol dat 2019 se matriekslaagsyfer 80% sal wees. “Ons gaan nie ons doelwit van 80% verlaag nie,” het Mathabatha gesê.

Kgetjepe het gesê Limpopo “lewer leerlinge van gehalte”.

Felicia Makondo (18) van die E.P.P. Mhinga Secondary School in Malamulele is Donderdag deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, as een van die land se toppresteerders vereer. Felicia het volpunte vir wiskunde, sowel as rekeningkunde, gekry.

Kgetjepe is ingenome met die verbetering in die getal leerlinge wat universiteitsvrystelling behaal het.

Altesaam 23,5% van die gr. 12-leerlinge van 2018 het matriek met universiteitsvrystelling geslaag, teenoor die 21,4% van 2017 en net 18% in 2016.

76 730 leerlinge het die 2018-matriekeindeksamen in Limpopo geskryf, 53 254 het geslaag en 17 999 van hulle het met universiteitsvrystelling geslaag.

Anthel Mavhina (18) en Ndodzo Masithi (18) van die Mbilwi Secondary School is Limpopo se topmatriekpresteerders. Foto: Marieitie Louw-Carstens

Die vyf topmatriekpresteerders in Limpopo is almal meisies.

Anthel Mavhina (18) en Ndodzo Masithi (18) deel die eerste plek as die beste presteerder(s) vir 2018. Dié twee slimkoppe was leerlinge van die Mbilwi Secondary School in Sibasa buite Thohoyandou in die Vhembe-distrik.

Anthel en Ndodzo gaan albei vanjaar aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. Anthel gaan aktuariële rekeningkunde studeer, en Ndodzo chemiese ingenieurswese.

Die Mbilwi Secondary School is vir die soveelste jaar as die beste skool in Limpopo aangewys.

Nyambeni Lidzhade, skoolhoof van Mbilwi, het etlike trofeë verower vir sy skool wat ook die skool is met die meeste leerlinge wat universiteitsvrystelling behaal het.

Twee skole in Limpopo het ’n 0%-slaagsyfer. Die Senwane Secondary School het net 12 gr. 12-leerlinge gehad en die Letshega Malokwane School het twee gr. 12-leerlinge gehad. Kgetjepe het gesê nie een van dié leerlinge het geslaag nie.

Ndodzo Masithi (18) van die Mbilwi Secondary School is een van Limpopo se twee toppresteerders. Foto: Marietie Louw-Carstens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.