
Giosame Lebona, Latita Jako, Boitumelo Majodini en Abongile Lumatha van die Hoër Tegniese Skool Louis Botha in Bloemfontein Donderdag nadat hulle geografie se eerste vraestel afgelê het. Foto: Marita Herselman
Matriekleerlinge van die Hoër Tegniese Skool Louis Botha in Bloemfontein meen geografie se eerste vraestel was darem nie te stormagtig nie.
Matrieks het Donderdagoggend dié vraestel van ’n allemintige 225 punte met ’n tydsduur van drie uur afgelê.
Die vraestel bestaan uit twee afdelings met vier vrae, waarvan drie beantwoord moet word.
Die tweede vraestel, wat kaartwerk behels, is die middag geskryf.
Giosame Lebona sê die eerste vraestel was “oukei”, hy voel redelik selfversekerd.
Hy sê egter Afdeling A oor die klimaat, weer en geomorfologie, was effens moeilik. Dit het redelik goed gegaan met hom by Afdeling B oor landelike en stedelike nedersettings en die land se ekonomiese geografie.
Dit was die vrae oor rivierverjonging en lyndonderstorms wat hom bietjie laat kopkrap het.
Latita Jako het baie hard geleer en die vorige nag nie ’n oog toegemaak nie, sê hy.
Hy meen hy het goed gevaar met die vraestel. By vraag een was daar vrae waarvan die antwoorde moeilik was om te onthou, soos oor dreineringspatrone, sê hy.
“Ek het vraag drie en vier geniet. Dit was baie makliker en die werk baie interessanter.”
Hy vind die vak geweldig interessant en sê dit voel sommige dae of hy weet wat gaan volg deur na die weerverskynsels te kyk.
Thabo Makala sê die vraestel was nie te rof nie en beter as verwag. Hy sê die vak vereis baie leerwerk, maar hy hét hard geleer. Ook hy verkies vraag drie en vier bo vraag een.