Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
‘Moenie bang wees vir wiskunde’
Adri Wessels het in 2019 ’n bronsmedalje ontvang op die Internasionale Wiskunde-olimpiade in Bath, Engeland. Foto: Verskaf

Jy moenie bang wees vir wiskunde nie, sê een van die land se slimkoppe wat 100% vir wiskunde in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen gekry het.

Adri Wessels (18), ’n oudleerling van Curro Durbanville, sê ’n mens moet die werk doen wanneer dit by wiskunde kom. “As jy die ure insit, is dit moontlik om 100% te kry.”

Hy was een van altesaam 1 207 leerlinge van die 20 IEB-skole in dié provinsie wat Dinsdag hul uitslae gekry het.

Wessels, wat met agt onderskeidings spog, sê wiskunde is sy passie en dat hy nog altyd 100% vir die vak gekry het.

Hy het ook 98% vir fisiese wetenskap gekry, 95% vir inligtingstegnologie en 97% vir gevorderde wiskunde.

Hy is drie keer gekies om Suid-Afrika in internasionale wiskunde-olimpiades te verteenwoordig.

Sy pa, Driaan Wessels, sê hulle is baie trots op Adri. “Dit kos harde werk. Dit kom nie in een jaar nie, dit is amper ’n hoërskoolloopbaan se werk wat saamkom. ’n Mens glo en vertrou dit sal goed gaan, maar ons is maar altyd gespanne.”

Hy lag wanneer hy sê dat hulle nie altyd weet of sy seun in sy kamer werk of wat hy doen nie. “Hy doen dinge maar op sy manier. Gelukkig hoef ’n mens nie vir hom te sê hy moet nou gaan sit en werk nie.”

Adri het Netwerk24 se wiskunde-kompetisies ook reeds twee keer gewen en was een jaar tweede.

Matrikulante van Reddam House Atlantic Seaboard wys hul opgewondenheid met hul uitslae.Foto: Verskaf

Sy skoolhoof, Riaan Stroebel, het gesê die skool het die laaste 21 jaar van sy bestaan ’n 100%-slaagsyfer behaal en sowat 90% van die leerlinge het toegang tot ’n universiteit om ’n graad te verwerf.

“Ons is baie tevrede met die uitslae, dit was ’n goeie jaar.”

Curro Sitari se eerste matriekgroep het ook ’n 100%-slaagsyfer behaal, lui ’n verklaring van Curro.

“Hierdie groep van 10 leerlinge was voorwaar baanbrekers aangesien hulle Curro Sitari se eerste gr. 9-, gr. 10-, gr. 11- en gr. 12-klas was. Die skool het sy deure in 2016 geopen met 34 hoërskoolleerlinge en groei onverpoosd.”

Nóg ’n skool wat spog met ’n slaagsyfer van 100% is Bishops Girls (The Diocesan School for Girls).

Curro Sitari se matriekklas van 2019. Foto: Verskaf

Daarby is drie meisies ook in die top-5% nasionaal.

“Ons wens Emily Morgan, Nina Owen-Jones en Genevieve Powell geluk met hierdie besonderse eer.”

Somerset Kollege spog ook met ’n 100%-slaagsyfer, soos elke jaar sedert sy eerste klas van 1999.

* Vind, vergelyk en lees alles oor 2019 se matriekuitslae op Netwerk24. Die uitslae is soos volg beskikbaar: IEB: Dinsdag, NSS (Wes-Kaap uitgesluit): Woensdag, NSS Wes-Kaap: Donderdag.

Gaan na www.netwerk24.com

Meer oor:  Wiskunde  |  Matrieks 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.