Matrikulante van die Hoërskool Monument in Krugersdorp sê lewenswetenskappe se tweede vraestel was op standaard met moeilike én maklike vrae.
Netwerk24 het Maandagmiddag ná die eksamen met vyf matrikulante van die skool gepraat om te hoor hoe hulle die vraestel ervaar het.
Diana de Sousa sê sy het die vraestel maklik gevind, met sommige uitdagende vrae, maar oor die algemeen was dit ’n goeie vraestel. Die langvraag was maklik en die vraag oor die vastelande wat uitmekaar beweeg, was ietwat moeiliker omdat sy nie heeltemal geweet het hoe om dit te beantwoord nie.
Ashleigh Jones sê daar was ’n goeie balans tussen maklike en moeilike vrae in die vraestel. Die eerste afdeling was vir haar maklik en sy het die kontinentale drywing interessant gevind.

Van voor is Diana de Sousa, Shaina Roodt, Ashleigh Jones, Luré Quinn en Marietjie Visser. Foto: Brümilda Swartbooi
Shaina Roodt sê sy het ook die vraestel geniet. “Dit was anders as vorige vraestelle wat ek uitgewerk het. Dit was ’n interessante vraestel om te skryf. Die langvraag was maklik. Vraestel twee was ietwat makliker as vraestel een,” sê sy.
Marietjie Visser meen ook vraestel twee was makliker.
“Dit was beter as vraestel een, so ek is baie bly daaroor. Dit was ’n standaard-vraestel, nie te moeilik of maklik nie. Die kontinente was ’n insigvraag waar jy meer moes gedink het en logiese antwoorde moes gee,” sê sy.
Luré Quinn voel ook optimisties. “Ek dink dit was op ’n goeie standaard. As jy geleer het, het jy geweet wat gaan aan. Die langvraag was relatief maklik,” sê sy.