Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Presteerder wil kennis ná studie in tuisdorp terugploeg

Met dié dat die dokters in Graaff-Reinet in die Karoo begin aftree, hoop een van die distrik se topmatriekpresteerders om ná haar studies as ’n dokter terug te keer en haar kennis in haar gemeenskap terug te ploeg.

Dié planne van Caitlin du Preez, matrikulant van die Hoër Volkskool op die dorp, kan nou bewaarheid word nadat sy Woensdagaand as die tweede beste presterende matrikulant in die Sarah Baartman-distrik aangewys is.

Ook die topmatrikulant in dié distrik, Pierre van der Merwe, het sy matriekjaar aan die Hoër Volkskool voltooi.

Van links is Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, Pierre van der Merwe van die Hoër Volkskool, en Fundile Gade, LUR vir onderwys in die provinsie. Foto: Lulama Zenzile

Volgens Theo Dorfling, die skoolhoof, is dit die eerste keer in minstens tien jaar dat sy skool die beste matrikulant in die distrik oplewer.

“Ons het al voorheen top-leerlinge in die distrik gehad, maar dit was net een. Dit is die eerste keer, wat ek kan onthou, dat ons nommer een én twee in die distrik oplewer.”

Met sy glimlag van oor tot oor het Dorfling gesukkel om sy vreugde oor die prestasie te verbloem.

“Ons is baie trots op die leerlinge. Hulle het hard gewerk, ons het hard gewerk by die skool en alles gedoen wat ons kon. Uiteindelik is die kinders met besonderse talente ’n genade van Bo.

“Dit is nie altyd maklik nie, ons het natuurlik ons eie uitdagings, dan maak aande soos vanaand dit die moeite werd,” het hy op ’n geleentheid vir die Oos-Kaapse top-matrikulante in Oos-Londen gesê.

Caitlin du Preez van die Hoër Volkskool glimlag breed saam met Oscar Mabuyane (links), die Oos-Kaap se premier, en Fundile Gade (regs), LUR vir onderwys in die Oos-Kaap. Foto: Lulama Zenzile

Volgens Caitlin is die matriekjaar vol uitdagings, maar kan sy danksy ’n kleiner matriekklas op dié plattelandse dorp sonder moeite meer aandag van ’n onderwyser vra.

“Ons klasse is klein, so ons kry makliker onderrig by die onderwysers, veral as ons iets nie onmiddellik verstaan nie. Al is ons so min, is ons steeds hoogs mededingend met mekaar.”

Caitlin sê sy hoop haar punte is tog goed genoeg om vanjaar medies te studeer, waarna sy na die Karoodorp sal terugkeer waar die bestaande medici volgens haar nou kort op mekaar begin aftree.

“Ek wil net mense help, ek hou van biologie, so dit is sommer twee vlieë met een klap,” skerts sy.

Pierre sê hy is egter onseker of hy ná sy aktuariële studies weer na die Karoo sal terugkeer.

“Ek dink nie daar sal vir my werk in Graaff-Reinet wees nie. Ek dink ek sal moet gaan waar die werk is.”

Hy het sy ouers, onderwysers en die skool geloof vir die rol wat hulle gespeel sodat hy sy matriekjaar op die hoogtepunt as top-matrikulant in die distrik kon afsluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.