Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Prinshof lewer sommer twee toppresteerders

Die Prinshof-skool vir gesiggestremdes in Pretoria het twee nasionale toppresteerders opgelewer.

Mongezi Mbatha (17) en Rohan Crafford (18) is onderskeidelik aangewys as beste en naasbeste presteerders in die kategorie vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes. Hul gemiddelde het met net twee punte verskil.

Mbatha slaag met drie onderskeidings in Afrikaans (eerste addisionele taal), lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie.

Rohan Crafford (18), ’n blinde leerling van die Prinshof-skool vir gesiggestremdes in Pretoria, het matriek met vier onderskeidings geslaag.Foto: Deaan Vivier

“Ek het nie verwag om aangewys te word as die topleerling nie. Dit het my beslis onkant ontvang,” het Mbatha Vrydag in Durban gesê.

Hy het Donderdagaand op ’n onthaal in Midrand, Johannesburg, sy prys van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, ontvang.

Mbatha gaan inligtingstegnologie aan die Universiteit van Pretoria studeer.

“Ek is dankbaar vir my goeie ondersteuningsnetwerk by die skool én huis. Daarsonder sou ek dit nie gemaak het nie.”

Mbatha het beperkte sig. Hy lees grootdrukboeke en vergroot die letters op sy rekenaar om oor die weg te kom.

Crafford, wat blind gebore is, het vier van sy agt vakke met onderskeidings geslaag: Afrikaans (huistaal), Engels (eerste addisionele taal), lewensoriëntering en wiskundige geletterdheid.

Mongezi Mbatha (17). Hy is Donderdag aangewys as toppresteerder in die kategorie vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes. Hy het drie onderskeidings behaal. Foto: Verskaf

“Ek dink ek het goed genoeg gedoen om bly te wees. Ek het onderskeidings waar ek hulle wou hê – in die tale.”

Hy het Vrydag sy matrieksertifikaat by die skool gaan haal, maar sê hy voel soos ’n “opgewarmde spook” ná al die aandag van die prysuitdeling.

Hy was van gr. 1 af ’n leerling aan Prinshof en het geleer om braille-skrif te lees.

Dit het vir hom nuwe wêrelde oopgemaak.

“Ek was altyd lief vir leer, maar lees was vir my aanvanklik niks lekker nie.”

Deesdae “lees” hy oudio-boeke, wat makliker as braille-boeke bekombaar is, en boonop heelwat goedkoper is.

Ntsikelelo Ndungane (19), het matriek aan die Nuwe Hoop-skool in Pretoria geslaag. Foto: Deaan Vivier

Sy groot liefde lê egter by tale, veral Afrikaans.

“As ons nie ’n drastiese poging aanwend om Afrikaans suiwer te hou nie, sal die taal nie kan oorleef nie. As ons Afrikaans nie respekteer nie, hoe moet ons verwag ander mense moet dit doen?”

Crafford gaan BA aan die Universiteit van Pretoria studeer. Engels sal sy hoofvak wees, gevolg deur Duits, Latyn en geskiedenis.

Hy weet hy sal vinnig leer om op die kampus oor die weg te kom met sy loopstok en sal mettertyd ’n gidshond kry.

Lungelo Nophali (18), ook van Prinshof, sê hy is verlig om sy punte te kry, want “dit was maar ’n stresvolle vakansie”.

“ ’n Mens weet tog vir watter punte jy gewerk het en dat alles goed sal afloop, maar tog is jy steeds bekommerd.”

Kgotatso Zako (19), Kyla Schoeman (19), Abigail Kitching (19) kyk na hul klasmaat Ntsikelelo Ndungane (naaslinks) se uitslae. Hulle was leerlinge van die Nuwe Hoop-skool in Pretoria.Foto: Deaan Vivier

Hy het ’n onderskeiding in lewensoriëntering behaal.

Lungelo Nophali (18) van die Prinshof-skool vir Gesiggestremdes in Pretoria met sy uitslae.Foto: Deaan Vivier

Hy wil ’n akteur word.

Matrieks van die Nuwe Hoop-skool, nog ’n skool in Pretoria vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes, was skoon bewerig van opwinding om hul uitslae te kry. Almal het geslaag.

Verlede jaar se hoofmeisie, Kyla Schoeman (19), Abigail Kitching, Kgotatso Zako (19) en Ntsikelelo Ndungane was Vrydag van die eerstes wat hul sertifikate gaan haal het.

Veral Schoeman, wat Vrydag verjaar het, het breed geglimlag.

“Dit is ’n groot verjaardaggeskenk. Ek het hard geleer, maar was nogtans verras met my toerismepunte . . . ek is baie tevrede.”

Meer oor:  Pretoria  |  Matriekeksamen2018  |  Matrieks  |  Matriekuitlae2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.