
Dié matrieks van die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria is Keanan Parker, Kayla Swart, Matlhogonolo Monare, Bonolo Selemale en Celeste Chauke. Hulle het Woensdag die tweede vraestel in rekenaartoepassings-tegnologie afgelê. Foto: Brümilda Swartbooi

Voor sit Kayla Swart, Keanan Parker en Bonolo Selemale. Agter staan Celeste Chauke en Matlhogonolo Monare, almal matrikulante aan die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria. Foto: Brümilda Swartbooi
Matrikulante van Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria was optimisties na die rekenaartoepassings-tegnologievraestel twee wat matrieks Woensdag geskryf het.
Volgens die groep, wat na afloop van die eksamenvraestel, met Netwerk24 gepraat het was die vraestel op standaard en dié wat deeglik voorberei het sou goed gevaar het.
Matlhogonolo Monare is een van die wat behoorlik voorberei het en daarom het dit met hom voor die wind gegaan. Die vraag oor oplossings-ontwikkeling was vir hom ietwat uitdagend, maar die ander vrae kon hy gepas beantwoord omdat hy hard geleer het.
Keanan Parker sê hy het die vraestel binne twee ure voltooi en nie die volle drie ure nodig gehad nie. Maar hy meen nogtans die vraestel was te lank.
Keanan sê hy verkies om nie te stres oor eksamens nie want dit beteken jy het nie die jaar gebruik om voor te berei nie.
Kayla Swart stres “uit gewoonte” voor eksamens, maar dan is die vraestelle heel billik.
Bonolo Selemale sê die vraestel was op standaard. “Afdeling A was maklik, met die kort vrae, terwyl die oplossings-ontwikkeling vir my uitdagend was. Ek dink ek het deeglik voorberei,” sê Bonolo met vertroue.
Celeste Chauke sê hoewel rekenaartoepassings-tegnologie een van haar gunsteling vakke is, is sy bly dié vraestel is agter die rug.