Matrieks wat Woensdag hul tyd nuttig gebruik het in die beantwoording van die eksamenvraestel in rekenaartoepassingstegnologie sal goeie punte kry.
So meen Annalie Barnard, onderwyseres in rekenaartoepassingstegnologie (RTT) aan die Hoërskool Stellenbosch. Sy gee al die afgelope 20 jaar dié vak.
“RTT-vraestelle is gewoonlik lank en leerlinge verloor gou belangstelling, maar diegene wat hul tyd nuttig gebruik het, behoort glad nie angstig daaroor te voel nie,” sê sy.
Volgens Barnard sou matrieks voordeel kon trek dat hulle deur die jaar praktiese assessering gedoen het. Hulle sou hul kennis hiervan op die vrae kon toepas.
“Die vraestel bestaan gewoonlik uit die toepassing van teoretiese kennis op alledaagse gebeure, met ander woorde tegnologie in die lewe. Na my mening was die vraestel baie billik, met vangplekke hier en daar, maar as jy opgelet het in die klas en deurgaans hard gewerk het, sal jy die vrugte daarvan pluk,” sê Barnard.
“Die manier van vraagstelling sou leerlinge nie omvergegooi het nie, veral as hulle vrae met begrip en insig kon beantwoord. Verstaan is altyd beter as om iets net te memoriseer,” sê Barnard.