Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Schäfer ‘nie baie tevrede’ met Wes-Kaap se 4de plek
Madelein Dippenaar (in die middel met die bos blomme) word hier deur haar skoolvriende gelukgewens. Dié oudleerling van Paarl Gimnasium is die land se top-leerling vir 2019. Van links is Mari de Lange, Elmarie Basson, Lehani Skein, Dippenaar, Jani de Lange en Nola de Jongh. Foto’s: Adrian de Kock

Sy is “nie baie tevrede” daarmee dat die Wes-Kaap nasionaal die vierde plek in die nasionale seniorsertifikaat-eksamen behaal het nie, maar statistieke weerspieël nie altyd die ware prentjie nie.

Só het Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, Woensdag aan die matriekklas van 2019 van Paarl Gimnasium gesê toe sy hulle gelukgewens het.

Só lyk Madelein Dippenaar se uitslae.

Sy het toevallig besluit om dié skool, wat die land se top-leerling opgelewer het, te besoek. Dit is dieselfde skool waar Veneco, die seun van haar lyfwag, Morné Siebritz, ook verlede jaar matriek geskryf het.

Toe Schäfer twee jaar gelede haar tweelingdogters se uitslae by hul skool, Westerford High, gaan haal het, was Siebritz aan haar sy. Dis duidelik net gepas dat sy dus vanjaar aan sý sy moes wees, het sy gesê.

Schäfer het gesê sy is baie trots op die provinsie, veral ook omdat die land se slimste drie leerlinge, asook die twee beste leerlinge in wiskunde van die Wes-Kaap is.

Wat die provinsie se vierde plek betref, meen sy dat statistieke nie altyd die werklikheid weerspieël nie. Die Wes-Kaap kan byvoorbeeld ook as die provinsie met die hoogste retensie-tydperk vir leerlinge van gr. 10 tot gr. 12 spog.

“Die slaagsyfer het ook gestyg (van 81,5% in 2018 tot 82,3% in 2019), die aantal studente wat toelating tot ’n universiteit gekry het, het gestyg, ons het goed gevaar in arm gebiede, en minder skole het swak presteer. As ons alles in ag neem, is dit ’n beter prestasie as vierde plek.”

Die oomblikke van blydskap was ook groot vir Mia Hugo, Crislynn Kuhn en Caitlin Adams.

Schäfer het ook die lof van Madelein Dippenaar (18), die land se top-leerling, besing. “Ek was baie bevoorreg om haar gister (Dinsdag) te kon sien.”

Madelein, oftewel Skoeba, soos wat sy in gr. 8 in die Paarl Gimnasium gedoop is, het ’n gemiddelde punt van 96,9% behaal.

Op Schäfer se vraag oor wat met ander 3% gebeur het, het Madelein geantwoord: “Dit was wiskunde! Ek blameer wiskunde daarvoor!”

Morné Siebritz wens sy seun, Veneco, geluk met sy uitslae terwyl Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, toekyk.

Haar uitslae is as volg: 92% vir Afrikaans as huistaal, 99% vir Engels as huistaal, 91% vir Duits as tweede addisionele taal, 96% vir wiskunde, 97% vir lewensoriëntering, 98% vir ingenieursgrafika-en-ontwerp, 94% vir lewenswetenskappe, 98% vir fisiese wetenskappe en 98% vir visuele kunste.

Sy het gesê die eksamen het nie vir haar anders gevoel as die September-eksamen nie. “Dit was meer hersiening.”

Haar geheim om druk te hanteer is om stokperdjies te vind om jou gedagtes te laat gaan. Sy het kuns en ballet in haar vrye tyd beoefen. “Dit maak ’n mens se kop oop. Dis ’n goeie manier om jou brein kans te gee om van die gedruis van die skool weg te kom.”

Sy kom van ’n klein plekkie naby Augrabies in die Noord-Kaap, waar haar ouers met druiwe boere. Haar pa, Alwyn, is haar rolmodel.

“Hy het ’n wonderlike manier om met mense te werk. Hy het soveel geduld. Hy werk lang ure om vir ons te voorsien. Harde werk is die sleutel tot sukses.”

Sy beplan om vanjaar ’n BSc-graad in mikro-biologie en biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Matriekuitslae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.