Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Slaagsyfer: Kritici ‘klink soos plaat wat vashaak’
Elijah Mhlanga
Elijah Mhlanga, die woordvoerder van die departement van basiese onderwys. Foto: Felix Dlangamandla

Die departement van basiese onderwys ontken aantygings dat die matriekslaagsyfer van 78,2% “misleidend” is en benadruk dat die regering baie daarin belê om leerlinge van gr. 1 af te behou.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het Vrydag gesê die organisasies en akademici wat herhaaldelik wys op die getal leerlinge wat van gr. 1 tot matriek behou word, “begin al soos ’n stukkende plaat klink”.

“Ons het al gewoond geraak daaraan dat hulle dié tyd van die jaar relevant probeer wees. Met dié dat hulle nie hul misleidende narratief verander nie, sal ons ook nie ons reaksie verander nie.”

Dit volg op politieke partye en akademici wat aandui dat slegs sowat die helfte van leerlinge wat in 2007 in gr. 1 ingeskryf het, teen 2018 die matriekeksamen afgelê het, en wat vrae vra oor wat met dié leerlinge gebeur.

Mhlanga sê byvoorbeeld daar is 18 leerlinge in April 2017 in ’n motorongeluk in Bronkhorstspruit dood en talle ander het ook daardie jaar gesterf.

“Moet ons nou dié leerlinge bytel wanneer hul klasmaats in matriek is? Wat is die logika daaraan dat jy mense insluit wat nie meer in die klaskamer is nie?”

Hy vra ook wat die kritici doen om die jeug wat in skooltyd op straat is aan te moedig om in die klas te bly.

“Die minister praat gereeld oor die maatskaplike faktore wat daartoe lei dat leerlinge die skool verlaat. Elke gemeenskap, insluitend dié organisasies, moet wys dat hulle daartoe verbind is om die land se probleme op te los deur bewyse van hul pogings te verskaf.”

Nic Spaull, senior navorser aan die Universiteit Stellenbosch se departement van ekonomie, het in reaksie op die matriekuitslae gesê sowat 400 000 kinders wat in 2007 vir gr. 1 ingeskryf is, het die skool verlaat en die departement gee geen aanduiding of hulle verdere onderrig ontvang nie.

“Van 100 leerlinge wat in 2007 met skool begin het, het slegs 51 voltydse leerlinge die matriekeksamen geskryf, met 40 wat geslaag het, waarvan 17 universiteitsvrystelling gekry het. Dit is misleidend om slegs oor die 78% wat geslaag het verslag te doen.”

Volgens Spaull was daar vir elke 100 meisies in matriek slegs 82 seuns. “Daar is verskeie redes daarvoor, maar dit kom daarop neer dat meisies beter in die meeste vakke vaar en teen ’n laer koers uitval.”

Prof. Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het Vrydag ook gevra dat Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, moet verduidelik waar die meer as 400 000 leerlinge is wat gr. 1 in 2007 begin het en veronderstel was om in 2018 se matriekklas te wees.

“Om te kyk hoe die minister jaarliks die uitslae bekend maak, is soos om as ’n tiener na ’n kulkunstenaar te gaan kyk. Jy (en die kulkunstenaar) weet dít wat jy sien, is ’n truuk, maar jy bly stil omdat jy omring word deur baie wat eintlik in wonderwerke glo.”

Luidens die departement se statistieke vir 2007 is 1 171 323 leerlinge vir gr. 1 ingeskryf.

In 2018 het 800 843 kandidate geregistreer vir die nasionale seniorsertifikaat-eksamen (NSS) in November, waarvan 624 733 voltydse leerlinge en 176 110 deeltyds was.

Hiervan was 8,8% vroue en 10,6% mans van 21 tot 26 jaar oud.

Uiteindelik het 512 735 voltydse leerlinge en 117 661 deeltydse leerlinge al sewe vakke van die NSS-eksamens geskryf.

Van dié kandidate het 400 761 (78,2%) geslaag – ’n verbetering van 3,1 persentasiepunte op 2017 se 75,1%.

Dit sluit in 33 412 leerlinge wat voorheen gedruip het en na die volgende graad deurgesit is, waarvan 20 122 (60,2%) geslaag het.

Wanneer dié leerlinge uitgesluit word, staan die slaagsyfer op 79,4% en het dit met 2,9 persentasiepunte verbeter op 2017 se 76,5%.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Donderdag gesê die 128 634 leerlinge wat deurgesit is, het in 2018 vir die eksamen geregistreer – die meeste nog sedert dié beleid in 2015 in werking gestel is.

Die leerlinge wat nie in November al sewe vakke geskryf het nie, sal in Junie die res voltooi.

Die EFF het Donderdag ook daarop gewys dat rondom 374 780 (32%) van die leerlinge wat in 2007 in gr. 1 was die skool verlaat of gedruip het en dat die werklike slaagsyfer eerder op 34,2% neerkom.

Angie Motshekga
Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, Donderdag met die bekendstelling van die matriekslaagsyfer vir 2018. Foto: Felix Dlangamandla

“Dit word vererger deur die feit dat die regering nie ’n poging aanwend om na te gaan of dié leerlinge werklik die skool verlaat het, elders verdere onderrig ontvang of by die werksmag aangesluit het nie.”

Nic Spaull
Nic Spaull, senior navorser aan die Universiteit Stellenbosch se departement van ekonomie.Foto: VERSKAF

Nomsa Marchesi, die DA-woordvoerder oor basiese onderwys, sê die departement het “weer eens versuim” om die groot getal leerlinge wat nie die matriekeksamen skryf nie te noem.

“Dié leerlinge sak of terug om grade te herhaal of raak heeltemal verlore weens die ANC se falende onderwysstelsel.”

Volgens Marchesi is die werklike slaagsyfer eintlik 37,6%, as die getal gr. 10’s van 2016 wat matriek in 2018 geslaag het, in ag geneem word.

“Dié gr. 10’s is veronderstel om saam met ander matrikulante te vier, maar meer as die helfte het nie matriekeksamen binne die verwagte tydperk geskryf nie.”

Marchesi sê die “regte slaagsyfer” vir elke provinsie onthul dat slegs die Wes-Kaap 62% van sy gr. 10’s van 2016 behou het om betyds matriek te voltooi.

“Die Vrystaat, met die grootste afname in die land, is al berug vir die ‘uitdun’ van leerlinge, waar hulle doelbewus teruggehou word om die slaagsyfers op te dryf.”

matrieks
Grafika24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.