Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
‘Uitgelekte vraestel dalk verskil tussen slaag, druip ’

’n Uitgelekte vraestel kan vir swakker kandidate die verskil tussen druip en slaag beteken, terwyl dit vir sterker kandidate ’n onderskeiding kan verseker.

Die departement van basiese onderwys het Maandagaand bevestig die tweede fisiese wetenskap-vraestel is voor Maandag se eksamensessie uitgelek. Dit kom nadat die tweede wiskundevraestel, wat op 16 November geskryf is, ook voor die sessie uitgelek het.

Volgens kenners lyk dit asof die vraestelle laataand of vroegoggend voor die sessies uitgelek is.

Celeste Labuschagne van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum se Wetenskap-onderwysersvereniging sê in só ’n geval kan sterk kandidate die vraestel gou een keer deurwerk en onthou wat hulle die volgende dag moet doen.

“Daar is ook baie leerwerk in chemie, so as jy regtig ’n swak leerling is, kan jy van die vrae se antwoorde net so gaan leer. Dit gaan jou wel ’n rukkie vat.

“ ’n Voorsprong van ’n aand voor die tyd gaan seker nie fenomenale voordele inhou nie, maar jou onderskeidingskandidate gaan score. Daai kind hoef net na die dele te kyk waarmee hy regtig sukkel, dit memoriseer, en sy kop is deur,” sê sy.

“Aan die ander kant het ek ook al gesien vir sekere kinders kan jy maar die vraestel gee, dit gaan hulle nie help nie. Leerlinge wat in elk geval met die vak sukkel, gaan steeds sukkel.”

Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), is wiskunde en fisiese wetenskap hoër-kognitiewe vakke en dit is moontlik dat daar ’n groter behoefte aan hulp onder leerlinge bestaan.

Klopper sê daar is by vier punte ’n risiko dat die vraestelle kan uitlek: die drukkery; die vervoer na die stoorplek; die stoorplek self; en die verspreiding van die vraestelle na die distrikte en daarna die skole, asook die tydelike storing by skole.

“My aanvoeling is dat die mees waarskynlike lekplek tydens fase 4 (die verspreiding na distrikte en skole) is. Die rede is die kort tydperk wat die vraestelle voor die eksamen gelek het. As ek die ondersoek sou doen, is dit waar ek sal begin,” sê Klopper.

Labuschagne stem saam dat die probleme hier lê.

“As dit daai tyd van die oggend uitlek, gebeur dit by die plekke wat die vraestelle oornag gehad het. Dis definitief nie later in die proses nie.

“Ek glo nie dit het by skole gebeur nie, want die proses by skole is gewoonlik van so ’n aard dat die vraestel omtrent ’n uur voor die tyd by die skool aankom. Selfs al is die skool ’n verspreidingspunt, sit hulle nooit so lank met die vraestel nie,” sê sy.

Volgens Klopper is die kans skraal dat een van die twee vraestelle landwyd oorgeskryf gaan word. Die SAOU het ná vanjaar se eerste voorval gevra of die departement die datum vir die bekendmaking van die uitslae gaan uitstel.

“Die antwoord was nee. Dit impliseer dat ’n landwye herskryf nie voorsien word nie. My aanvoeling is dat dieselfde benadering ten opsigte van fisiese wetenskap gevolg sal word, naamlik dat die geaffekteerde skole moontlik kan oorskryf.

“Dit sal afhang van hoe wyd die verspreiding is en veral hoe lank voor die tyd dit versprei is en of leerlinge dit volledig kon inoefen. Sover blyk die verspreiding nie baie wyd te wees nie,” sê hy.

Die laaste keer dat ’n vraestel tydens die eindeksamen uitgelek het, was in 2016 toe die tweede wiskundevraestel in Limpopo uitgelek is.

Volgens Klopper moet die sogenaamde “risiko-ketting” waardeur vraestelle gaan volledig nagegaan word en rolspelers moet hulself tot absolute vertroulikheid verbind.

Die vakbonde Naptosa en Sadtu het ook hul teleurstelling met die jongste voorval uitgespreek en die departement versoek om die maatreëls vir die res van die eksamen te verskerp.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, wou nie uitbrei oor watter maatreëls nou in plek is om te verhoed dat nog vraestelle uitlek nie.

Hy sê die Valke werk hard aan die ondersoek en dat die departement wag vir die uitslag.

Die departement het vroeër in ’n verklaring gesê spanne is na die provinsies ontplooi om die sekuriteitstelsels by die onderskeie punte na te gaan.

Lucky Ditaunyane, woordvoerder van die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi), sê hulle wag nog vir ’n formele vorderingsverslag van die onderwysdepartement.

“Umalusi sal wag tot die nodige prosesse afgehandel is voordat daar kommentaar oor die geloofwaardigheid van die eksamen gelewer word. Die raad is verbind daartoe om die integriteit en geloofwaardigheid van al die assesseringsliggame se eksamens te beskerm,” sê hy.

‘Oortreders kan tronkstraf kry’

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, het aan Brümilda Swartbooi gesê iemand wat skuldig bevind word aan die verspreiding van eindeksamen-vraestelle kan tronkstraf opgelê word.

Die maksimum vonnis is drie jaar tronkstraf, al is dit hul eerste oortreding.

Curlewis sê aspekte soos die erns en aard van die misdaad, die gemeenskap se belange en die persoon se persoonlike omstandighede speel natuurlik ’n rol. Sy gevoel is dat daar waarskynlik meer as een volwasse persoon by vanjaar se voorvalle betrokke is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.