Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Uitlek van wiskunde-vraestel ‘nie per ongeluk’

Dit is nog nie duidelik of en hoeveel matrikulante Maandag se tweede wiskundevraestel gaan moet oorskryf nadat die vraestel in Gauteng en Limpopo uitgelek het nie.

Die onderwysdepartement het ná die eksamensessie gesê die vraestel is vroeg Maandagoggend, ’n paar ure voor die aanvang van die sessie om 09:00, aan kandidate in Gauteng en Limpopo uitgelek.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het nie geantwoord op navrae oor hoe die uitgelekte vraestel onder leerlinge versprei is nie.

Die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) sê in gevalle soos dié moet die raad met die onderwysdepartement en wetstoepassers vergader om die omvang van die verspreiding te bepaal.

Daar is geen twyfel dat die bronne óf by die onderskeie (provinsiale) departemente, óf sekere skole is nie.
Chris Klopper

Lucky Ditaunyane, woordvoerder van Umalusi, sê die raad is teleurgesteld in die voorval wat die integriteit van die eksamen in die twee provinsies kan ondermyn.

“Afhangende van die uitkoms van die ondersoek, sal skole wat hierdeur geraak word dalk nog ’n vraestel moet skryf op ’n datum wat deur die departement en Umalusi vasgestel sal word,” sê hy.

Volgens die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) was die uitlek van die wiskundevraestel nie ’n ongeluk nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê daar is te veel sekuriteit in plek rondom die eindeksamenvraestelle en dat Maandag se vraestel doelbewus uitgelek is.

“Daar is geen twyfel dat die bronne óf by die onderskeie (provinsiale) departemente, óf sekere skole is nie. Dis die eerste keer in jare wat so ’n ernstige lekkasie weer plaasvind,” sê Klopper.

“Dis jammer, omdat dit ’n onnodige skaduwee oor die geloofwaardigheid van die eksamen werp.”

Die vakbond hoop die bron word binnekort opgespoor en dat die reg sy gang sal gaan.

“Dis ’n misdadige oortreding en moet as sodanig hanteer word,” sê Klopper.

Vroeë bronne dui daarop dat die uitlek van die vraestel beperk is tot ’n paar leerlinge in die twee provinsies.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van Naptosa, sê hulle is teleurgesteld dat die vraestel uitgelek is in ’n jaar waarin leerlinge en onderwysers baie moes verduur.

“Ons wil weet presies wat gebeur het en waar die bron is, want die eksamen-direktoraat het die laaste paar jare goed gedoen, maar weer eens gebeur dit in Limpopo,” sê hy.

Die tweede wiskundevraestel het ook in 2016 in Limpopo uitgelek.

Die onderwysdepartement sê in ’n verklaring wetstoepassers se hulp is ingeroep om hom met die ondersoek na die voorval by te staan.

“Vroeë bronne dui daarop dat die uitlek van die vraestel beperk is tot ’n paar leerlinge in die twee provinsies. Die ondersoekspan samel bewyse in en ’n verslag sal binnekort ingedien word,” lui die verklaring.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se vereniging vir Afrikaanse wiskundeonderwysers (VAW) sê weens die staat van inperking, die streng maatreëls wat daarmee gepaardgaan, asook die onnatuurlike verloop van die skooljaar, is dit nie ideaal om die vraestel oor te skryf nie.

Die DA het ’n beroep op Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gedoen om op die Nasionale Vergadering se volgende sitting meer besonderhede oor die voorval te verskaf, insluitend wat die gevolge vir die betrokke leerlinge is.

Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder, sê leerlinge en ouers het die versekering nodig dat geen ander vraestel sal uitlek nie.

Dr. Annalie Roux, senior lektor in wiskundeonderwys by die Noordwes-Universiteit, sê sy glo nie dat dit leerlinge regtig kon bevoordeel indien hulle die vraestel ’n uur of twee voor die tyd gekry het nie, maar dat dit moeilik is om te bewys.

‘Vraestel gebalanseerd, tyd kon pla’

Volgens Roux was die vraestel se afdeling oor statistieke redelik, maar dat leerlinge van die begin af akkuraat moes werk.

“Daar was baie data om by die sakrekenaar in te sleutel, wat tydrowend was en leerlinge het nie noodwendig tyd gehad om hulle werk na die tyd te kontroleer nie.

“Die analitiese meetkunde was na my mening ook billik, hoewel daar een of twee vrae in die onderafdelings van vraag 3 en 4 was wat leerlinge kon laat kopkrap. Die afdeling oor trigonometrie het taamlik uitdagende vrae bevat,” sê sy.

Volgens lede van die VAW se anonieme terugvoering was die vraestel gebalanseerd en op dieselfde standaard as verlede jaar.

“Dis ’n ligpunt vir leerlinge wat onder moeilike en unieke omstandighede vanjaar moes voorberei. Onderwysers het daarop gedui dat Euklidiese meetkunde, soos oudergewoonte, ’n kopseer vir die meeste leerlinge was,” sê die VAW.

Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die parlementêre portefeulje-komitee oor basiese onderrig, is ook bekommerd oor die lekkasie.

"Dit plaas alle leerlinge wat vandag in Gauteng en Limpopo die vraestel geskryf het onder druk terwyl die omvang van die lekkasie ondersoek word. Die skooljaar was weens die Covid-19-pandemie reeds stresvol vir matrieks. Dit (die lekkasie) sal duidelik meer spanning meebring en dit is nog vroeg in die eksamens."

Die bewerings oor 'n lekkasie volg 'n paar dae nadat die departement vir basiese onderrig aangekondig het dat 'n aantal matrikulante in Gauteng en KwaZulu-Natal met afkyknotas gevang is tydens 'n eksamen. Hoeveel matrieks gevang is, is nie bekend gemaak nie.

Mbinqo-Gigaba sê sy sal die departement vra om die komitee oor dié sake in te lig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.