Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Uitslae aangedik in verkiesingsjaar, sê kenner

Onderwyskenners het gemengde gevoelens oor die 2018-matriekuitslae nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Donderdagmiddag die nasionale slaagsyfer in Midrand bekend gemaak het.

78,2% van die kandidate wat verlede jaar matriek geskryf het, het geslaag. Dit is 3,1 persentasiepunte hoër as die slaagsyfer van verlede jaar.

Prof. Elda de Waal, onderwysregkenner aan die Noordwes-Universiteit se Edu-H-Right-navorsingseenheid. Foto: Felix Dlangamandla

Prof. Elda de Waal, onderwysregkenner aan die Noordwes-Universiteit se Edu-HRight-navorsingseenheid, meen Motshekga se departement is vaag oor die uitslae en raak oor die verkeerde goed opgewonde.

Sy sê daar moet in gedagte gehou word dat die departement 17 vakke se punte opwaarts aangepas het. Dit is belangrik om te weet met hoeveel die punte aangepas is omdat ’n mens nie gehalte moet inboet nie en die matrikulante nie vals hoop moet gee nie.

“Universiteite vat steeds net die beste studente. Wat help dit dat so baie leerlinge universiteitsvrystelling het?

Sy is ook veral bekommerd oor die sukkelende skole se uitslae en voel die departement doen nie genoeg daaraan nie. Die toppresteerders verdien hul uitslae en is goed op pad, maar wat van dié leerlinge wat ook ’n gelyke kans wil hê?

Sy meen die departement raak elke jaar opgewonde oor die leerlinge wat goed presteer en vergeet van dié wat nie so goed gepresteer het nie en dat dit aandag moet geniet voordat dit te laat is.

Chris Klopper, hoof van die SAOU.

“Ek is nie besonder opgewonde oor die uitslae nie. Dit is verkiesingsjaar daarom het ek verwag dat die uitslae outomaties aangedik sal word,” sê De Waal.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) meen die uitslae van 2018 se matriekeksamen is ’n “beduidende prestasie”.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê in ’n verklaring hulle sal die volledige uitslae en bykomende faktore wat deur Motshekga aangemeld is, deeglik bestudeer en later ’n gedetailleerde bevinding uitreik.

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê vir sy vakbond is dit ’n pluimpie vir die departement dat 2018 se eksamens nie ontwrig is deur enige ongerymdhede nie en geloofwaardig is.

Hy meen egter die departement moet aandag gee aan skole wat leerlinge terughou totdat hulle in staat is om beter matriekuitslae te kry.

Dit doen niemand ’n guns nie en te veel leerlinge tussen gr. 10 en gr. 11 word benadeel.

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa. Foto: Argief

Hy meen die departement se insluiting van al die nuwe tegniese vakke is ’n stap in die regte rigting.

“Dit wys ons onderwysstelsel beweeg weg van ’n kurrikulum wat uitsluitlik akademies is, maar die departement sal skole moet help met die nodige hulpbronne in dié opsig. Ek dink die departement is verlede jaar onkant gevang,” sê Manuel.

Hy voel ook die departement pas nog te veel punte aan.

“Die probleem moet vroeër aandag kry. Ons voel onder meer dat leerlinge geleer moet word om met begrip te lees. Dan sal dit nie later nodig wees om punte aan te pas nie,” sê Manuel.

Meer oor:  Saou  |  Naptosa  |  Chris Klopper  |  Matriekuitlae2018  |  2019-Verkiesing  |  Matriekeksamen2018  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.