Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Uitvalsyfer, swak prestasie in wiskunde ‘wek kommer’
Matriekleerlinge skryf eindeksamen. Foto ter illustrasie. Foto: Jaco Marais

Die afname in matrieks wat wiskunde in die eindeksamen skryf en met 60% of meer slaag, bly ’n groot uitdaging en lei daartoe dat die vaardighede wat die land desperaat nodig het, al hoe minder word.

Daarby vreet die neiging van leerlinge om voor matriek uit te val die jeug se toekoms weg, sê die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR).

Vir elke 100 leerlinge wat met gr. 1 in 2008 begin het, het slegs 52 dit tot in matriek in 2019 gemaak en het 42 geslaag, terwyl 19 universiteitstoelating ontvang het.

In 2018 was daar ook meer as 400 000 leerlinge wat nie matriek verwerf het nie, uit die meer as miljoen gr. 1’s wat in 2007 hul skoolloopbaan begin het, luidens ’n verklaring wat die SAIGR Donderdag uitgereik het.

Chantyl Mulder, die SAIGR se uitvoerende direkteur vir nasiebou, sê dit is duidelik dat honderdduisende leerlinge jaarliks die kans ontneem word om hul lewe deur onderwys te verbeter.

Vir elke 100 leerlinge wat met gr. 1 in 2008 begin het, het slegs 52 dit tot in matriek in 2019 gemaak.

Mulder sê hoewel dit gevier moet word dat die slaagsyfer die eerste keer bo 80% is, is die SAIGR bekommerd oor die uitwerking van dié neigings op die ekonomie op lang termyn, veral wat die uitvalsyfer en swakker prestasie in wiskunde betref.

Sy waarsku dat die regering en ondernemings nie in vervoering moet raak oor die prestasies van die 2019-klas in sy geheel nie, want ’n “vinnige ontleding van die uitslae dui op ’n paar kommerwekkende feite”.

Altesaam 787 717 kandidate het hulle vir die nasionale seniorsertifikaateksamen (NSS) in November ingeskryf, van wie 616 754 heeltydse leerlinge en 170 963 deeltydse leerlinge was, luidens die departement van basiese onderwys se eksamenverslag.

Onder die heeltydse kandidate wat hulle ingeskryf het, het 504 303 (64%) uiteindelik die eksamen in sewe of meer vakke geskryf.

In 2008 het 1 090 254 leerlinge vir gr. 1 ingeskryf en behoort in die groep wat verlede jaar in gr. 12 was.

Van die 256 338 leerlinge wat hulle in 2019 vir wiskunde ingeskryf het, het 222 034 die eksamen afgelê en 121 179 (54,6%) ’n punt van 30% of meer behaal.

Dit kom neer op 11 824 minder leerlinge wat hulle vir wiskunde ingeskryf het teenoor 2018, terwyl die persentasie leerlinge wat 30% of meer behaal het ook van 58% in 2018 gedaal het.

Slegs 77 751 leerlinge (35%) het wiskunde met 40% of meer geslaag, teenoor 86 874 (37%) in 2018.

Net 4 415 (2%) van die leerlinge het ’n onderskeiding in wiskunde behaal met ’n punt tussen 80% en 100%.

In die vorige jaar het dié getal op 8 135 (4,7%) gestaan.

Mulder het daarop gewys dat om toegang te verkry tot kwalifikasies vir vaardighede waarvoor daar ’n groot vraag is, vereis universiteite dat leerlinge met 60% of meer in sleutelvakke soos wiskunde moet slaag.

“Omdat wiskunde leerlinge toerus met kritiese denke en probleemoplossing, is dit noodsaaklik vir byna elke skaars vaardigheid of werk wat in aanvraag is en die land uiters nodig het. Daarom is die afname in leerlinge wat wiskunde neem en dit boonop met 60% of meer slaag, ’n reuse-uitdaging vir Suid-Afrika.”

Chantyl Mulder, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters se uitvoerende direkteur vir nasiebou.Foto: Niel Joubert

Volgens Mulder hou die aantal nuwe toetreders tot die arbeidsmark in loopbane wat skaars vaardighede behels nie by met die land se behoeftes nie.

“Nog ’n bron van kommer is die buitensporig hoë persentasie leerlinge wat nie die geleentheid het om onderrig tot in matriek te ontvang en die eindeksamen af te lê nie. Die uitvalsyfer styg op ’n jaargrondslag. Dié neiging vreet stadig die jeug van die land se toekoms weg.”

Om die tekortkominge in die onderwysstelsel aan te vul, gaan meer as net ingryping van die regering verg en sal die samewerking en steun van alle belanghebbers in die nasionale ekonomie vereis, sê Mulder.

Sy het verder ’n beroep op die private sektor gedoen om die gapings in die stelsel te vul.

Die SAIGR sê dat hy nie besorg is oor die afname in belangstelling in rekeningkunde as vak onder matrieks nie, omdat geen universiteite in die land dit as ’n voorgraadse vereiste beskou nie, lui die verklaring.

“Universiteite vereis eerder dat leerlinge 60% of meer in wiskunde en Engels behaal om kritiese denke en probleemoplossing te ontwikkel wat vir die graad benodig word. Diegene wat rekeningkunde studeer, doen in elk geval die hele skoolkurrikulum in die eerste ses maande, so daar is regtig geen behoefte om die vak in sy huidige formaat te neem nie.”

Meer oor:  Matriekeindeksamen  |  Wiskunde  |  Matrieks 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.