Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Verwarring oor siek matrieks

’n Babelse verwarring weens ’n besluit op die nippertjie dat matrieks met Covid-19 wel die eindeksamen mag skryf, het die afgelope week slagoffers opgelewer.

Keisha Matthews, ’n matrikulant wat voorverlede Donderdag positief getoets is vir Covid-19, is nie toegelaat om die afgelope Donderdag die Engels-vraestel te skryf nie, maar wel Vrydag die Afrikaans-vraestel by ’n ander skool. Foto: Edrea du Toit

Woensdagaand laat, enkele ure voor die eerste vraestel vir die nasionale senior sertifikaat (NSS), het die departement van basiese onderwys (DBO) en departement van gesondheid aangekondig leerlinge met die virus mág skryf, maar by “different venues”.

Verlede week nog was die standpunt dat geen leerling met Covid-19 mag skryf nie.

Toe kondig die departement Maandag aan dié met ’n temperatuur bo 38 °C kan by die skool in isolasie skryf.

Aanvanklik is gedink die “ander lokale” in Woensdagaand se aankondiging verwys na plekke weg van die skoolterrein.

Intussen het dit geblyk die departemente verwys na isolasiekamers by die skole. Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, sê ingevolge die vereistes vir heropening in Junie is elke skool veronderstel om ’n isolasiekamer te hê.

‘Wie gaan toesig hou? Nie ons lede nie.’

“Hulle hoef nie nuwe strukture op te rig nie.”

Skole is Woensdag van die nuwe reëling ingelig, sê Mhlanga.

Basil Manuel, besturende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, wil weet: “Hierdie kinders moet met openbare vervoer by die skole kom. Moet ’n leerling met die virus in ’n taxi vol mense klim?

“Wie gaan toesig hou? Sekerlik nie ons lede nie.” Hy sê Naptosa is bereid om lede by te staan met moontlike regstappe.

Mhlanga sê onderwysers sal toesig hou “soos dit gister (Donderdag) in vyf provinsies plaasgevind het waar Covid-gevalle aangemeld is. Waar nodig sal ander beamptes van gesondheid of die DBO hand bysit.”

Naptosa sê hulle – en sover hy weet ook nie ander vakbonde of ouerorganisasies nie – is nie oor dié ingrypende besluit geraadpleeg nie. “Hier is geen logistieke reëlings beskikbaar nie.”

Sadou het ook teen die besluit uitgevaar.

Manuel sê op ’n vergadering met vakbonde Vrydagaand het die DBO om verskoning gevra omdat ’n behoorlike proses nie voor die aankondiging gevolg is nie.

“Ons het ooreengestem geen onderwyser mag gedwing word om toesig te hou nie. Ons het ook gepraat oor die eksamenlokale en die DBO het saamgestem skole moet as laaste opsie gebruik word.”

Rapport verneem die DBO het gister laatmiddag op ’n vergadering met beheerliggaamorganisasies gesê die protokolbeleid sal teen vanaand beskikbaar wees. Die departement van gesondheid sal waar moontlik alternatiewe skryfplekke verskaf. As die skool ál opsie is, moet die beheerliggaam daarin geken word.

In Keisha Matthews (17) van Kraaifontein, Kaapstad, se geval het die pap op die grond geval. Voorverlede Donderdag is sy positief getoets vir die virus, maar sy is asimptomaties.

Haar tannie, Margo Botha, sê Keisha se skool, die Bernadino Heights Secondary School, het gesê sy kan die afgelope Donderdag se Engels-vraestel in isolasie skryf. Woensdagaand laat het die skool laat weet dit kan nie gebeur nie, want die nodige maatreëls is nie getref nie.

“Ons as familie het haar probeer ondersteun, sy het so gehuil . . .”

Keisha sê haar hart is gebreek en sy kon nie verstaan hoekom dit gebeur nie. “Gistermiddag (Donderdag) op die nuus hoor ons daar is wél voorsiening gemaak vir kinders met Covid-19.”

Botha het toe begin rondbel. Sy sê beamptes van die departement het haar verseker Keisha kan Vrydagoggend Afrikaans by die Hoërskool Kraaifontein skryf.

“Ons was nog in die kar op pad toe bel die beampte weer en sê sy mag nie skryf nie. Die hoof van Kraaifontein het steeds gesê hulle is reg vir Keisha en sy kan skryf. So sy het.”

Keisha is voorlopig aanvaar om volgende jaar onderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland te studeer.

Die hoof van Kraaifontein het aangebied dat sy al haar vraestelle daar mag skryf.

Botha beweer die departement van gesondheid het haar Vrydagoggend gebel en gesê Keisha se isolasietydperk is verby.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het óók uit die departement se verklaring verstaan “different venues” beteken dis weg van die skoolterrein. Die provinsiale departement sê daar is nooit met hulle gekonsulteer oor die besluit nie en geen protokolle is beskikbaar gestel nie.

Bronagh Hammond, departementele woordvoerder, sê dis nie moontlik om kandidate by ’n skool te akkommodeer nie.

“Die WKOD kan geen skool dwing om iemand met die virus op die skoolterrein toe te laat nie. Dit druis in teen die regulasies in die Staatskoerant en die gesondheidsprotokolle wat sedert Mei in skole van krag is.”

Die WKOD het toe self besluit as kandidate asimptomaties is en kan bewys hulle is tien of meer dae gelede positief getoets, mag hulle skryf waar moontlik. Hammond sê reëlings is aanvanklik vir Keisha getref om elders te skryf, maar dit het toe geblyk in haar geval het die tien dae nog nie verstryk nie. Sy sê eenvoudig Keisha se skool het nie die nodige geriewe nie en hulle kan die skool nie dwing nie.

Aangesien die geriewe in die DBO-aankondiging nie bestaan nie, sal Keisha haar eksamen in Mei en Junie 2021 kan voltooi, sê Hammond.

Meer oor:  Bronagh Hammond  |  Basil Manuel  |  Elijah Mhlanga  |  Naptosa  |  Eindeksamen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.