Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Voornemende chirurg en ingenieur VS se bestes

’n Voornemende chirurg en ’n aspirant- chemiese ingenieur is die triomfantelike Vrystaat se topleerling en top- presterende leerling van 2020.

Marc van der Nest, oudleerling van die St. Andrew’s School in Bloemfontein, en Brandon Neo Mthombeni, oudleerling van die Ngwathe Secondary School in Edenville, is Dinsdag onderskeidelik as die topleerling en top- presterende leerling aangewys.

Die provinsie se matriekslaagsyfer was vyf keer in die afgelope agt jaar die beste in die land, en die premier, Sisi Ntombela, se hart bars van trots en vreugde.

Dr. Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, Dinsdag saam met van die provinsie se beste presteerders op die Universiteit van die Vrystaat se Suidkampus in Bloemfontein. Makgoe is in sy noppies dat die provinsie vir die vyfde keer in die afgelope agt jaar die beste slaagsyfer in die land behaal het. Foto: Mlungisi Louw

Sy was deel van die provinsiale onderwysdepartement se virtuele spoggeleentheid vir die Vrystaat se toppresteerders en die oudmatrieks van Bloemfontein, Bethlehem, Welkom, Vredefort en Petrusburg het op die uitsending vanuit die Universiteit van die Vrystaat se Suidkampus ingeskakel. Adv. Tsoarelo Malakoane, onderwyshoof van die Vrystaat, dr. Tate Makgoe, provinsiale LUR vir onderwys, Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, en ’n paar leerlinge was saam met Ntombela teenwoordig.

Adv. Tsoarelo Malakoane, onderwyshoof van die Vrystaat, dr. Tate Makgoe, provinsiale LUR vir onderwys, Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, en ’n paar leerlinge was saam met Ntombela teenwoordig.

Marc het algeheel die beste in die provinsie gevaar en Brandon is die topleerling vanuit ’n voorheen benadeelde skool.

Dr. Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, saam met Marc van der Nest (St. Andrew's School), die topleerling in die Vrystaat, en Neo Brandon Mthombeni (Ngwathe Secondary School), top- presterende leerling in die provinsie. Foto: Mlungisi Louw

Marc, wat vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, het nie noodwendig verwag om as die beste in die provinsie aangewys te word nie, maar hy weet hy het baie, baie werk ingesit om daar te kom.

Hy het onderskeidings in al nege sy vakke, gevorderde wiskunde (86%), wiskunde (98%), Afrikaans eerste addisionele taal (93%), Engels as huistaal (95%),

rekenaartoepassingstegnologie (94%), lewensoriëntering (92%), lewenswetenskappe (92%), fisiese wetenskap (100%) en rekeningkunde (100%), behaal. Gevorderde wiskunde is in die onafhanklike eksamenraad se eksamen afgelê.

Brandon voel wonderlik om die Vrystaat se top- presterende leerling te wees.

“Jy moet jou persoonlike missieverklaring bepaal wat jou sal lei om jou doelwitte te bereik en jou drome te bewaarheid.”

Hy glo harde werk, konsekwentheid en passie is die resep tot sukses. Volgens hom is sy ma, Lydia, baie trots op sy prestasie.

Brandon gaan vanjaar chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Vir Sesotho as huistaal het hy 82%, 80% vir Engels (eerste addisionele taal), 96% vir wiskunde, 83% vir lewensoriëntering, 92% vir lewenswetenskappe, 97% vir fisiese wetenskap en 91% vir landbouwetenskap behaal.

Provinsiale syfers

Makgoe, natuurlik geklee in sy wit oorwinningspak, sê hoewel hy wou hê dat die provinsie weer eerste moes kom, was hy maar katvoet om vooraf te veel daaroor te sê omdat dit so ’n ongewone jaar was.

Vir hom is een van die belangrikste prestasies dat die provinsie, ten spyte van die uitdagende jaar, sy droom verwesenlik en oortref het deurdat 40,4% van die leerlinge universiteitstoelating gekry het.

Die provinsie, wat ’n slaagsyfer van 85,1% behaal het, behou sy visier op ’n 90%-slaagsyfer.

Die slaagsyfer vir wiskunde is 66,3% vergeleke met 68,5% in 2019, en vir fisiese wetenskap 71,2% teenoor 82,7% in 2019.

Die tien skole wat die beste in wiskunde gevaar het, is die Hoër Meisieskool Oranje, Eunice High School for Girls, die Hoërskool Witteberg, Bethlehem Voortrekker Hoërskool, die Hoërskool Jim Fouché, Beacon Secondary School, Rantsane Secondary School, Lekgulo Secondary School, Ntsu Secondary School en Kopanong Senior Secondary.

Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem is aangewys as die skool wat die beste in wiskunde en fisiese wetenskap gevaar het.

Die Vrystaat is die beste in die land in rekeningkunde (86,4%), landbouwetenskap (82,8%), besigheidstudies (84,4%), ekonomie (75,5%), geografie (87,9%), lewenswetenskap (82,6%) en wiskunde geletterdheid (88,6%).

Die provinsie is tweede in die land wat wiskunde en geskiedenis (95,1%) betref en derde in fisiese wetenskap.

’n Pluimpie vir die provinsie is dat drie van sy vyf distrikte, Fezile Dabi, Motheo en Thabo Mofutsanyana, onder Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se toptien vir die top-presterende distrikte in die land gelys is. Daar is nasionaal 75 distrikte.

Kwintiel 1 tot 3 skole – die armer skole met min hulpbronne – verteenwoordig jaarliks sowat 73% van die provinsie se slaagsyfer. Altesaam 83,2% van die leerlinge in dié skole het geslaag.

* Alet van der Walt berig Marelie Bester van die Hoërskool Ficksburg spog nou met 10 A’s, saam met die twee onderskeidings wat sy vir vakke in die onafhanklike eksamen behaal het.

Meer oor:  Matriek 2020  |  Matriekeksamen  |  Matrieks  |  Wiskunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.