Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Vraestelle ‘dalk hiér uitgelek’

Die tweede vraestel in fisiese wetenskap wat matrieks Maandag geskryf het, het waarskynlik nie by skole uitgelek nie maar op pad daarheen, meen kenners.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê vraestelle kan uitlek by die drukkery, tydens die vervoer na die stoorplek, die stoorplek self of met die verspreiding na die distrikte en skole en daarna by die skole self.

“My aanvoeling is dat die waarskynlikste lekplek tydens fase 4 (die verspreiding na distrikte en skole) is. Die rede is die kort tyd voor die eksamen wat die vraestelle uitgelek het. As ek die ondersoek sou doen, is dit waar ek sal begin,” sê Klopper.

Celeste Labuschagne van die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum se Wetenskap-onderwysersvereniging stem saam die probleme lê waarskynlik hier.

“As dit daardie tyd van die oggend uitlek, gebeur dit by die plekke wat die vraestelle oornag gehad het. Dis definitief nie later in die proses nie.

Dit impliseer dat ’n landwye herskryf nie voorsien word nie.

“Die vraestel kom gewoonlik omtrent ’n uur voor die tyd by die skool aan. Selfs al is die skool ’n verspreidingspunt, sit hulle nooit so lank met die vraestel nie,” sê Labuschagne.

Sy meen omdat die vraestel kort voor die eksamen uitgelek het, sal die gevolge daarvan beperk wees. “ ’n Voorsprong van ’n aand voor die tyd gaan seker nie fenomenale voordele inhou nie, maar jou onderskeidingskandidate gaan score. Daardie kind hoef net na die dele te kyk waarmee hy regtig sukkel, dit memoriseer en sy kop is deur. Minder goeie kandidate kon dalk die vrae memoriseer, maar dit sou meer tyd verg.”

Volgens Klopper moet die “risiko-ketting” van vraestelle nagegaan word en rolspelers moet hulself tot absolute vertroulikheid verbind.

Die vakbonde Naptosa en Sadtu het ook die onderwysdepartement versoek om die maatreëls vir die res van die eksamen te verskerp.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, wou nie uitwei oor watter maatreëls nou ingestel is om te keer dat nog vraestelle uitlek nie. Hy sê die Valke werk hard aan die ondersoek en die departement wag op die uitslag.

Die strafregkenner dr. Llewelyn Curlewis het aan Brümilda Swartbooi gesê iemand wat skuldig bevind word aan die verspreiding van eindeksamenvraestelle kan tot drie jaar tronkstraf opgelê word, al is dit hul eerste oortreding.

Intussen is matrikulante bekommerd dat hulle moontlik die vraestel sal moet herskryf.

Klopper meen egter dit is onwaarskynlik. Die SAOU het ná vanjaar se eerste voorval gevra of die departement die datum vir die bekendmaking van die uitslae gaan uitstel. “Die antwoord was nee. Dit impliseer dat ’n landwye herskryf nie voorsien word nie. My aanvoeling is dat dieselfde benadering ten opsigte van fisiese wetenskap gevolg sal word – dat die skole wat geraak word moontlik kan oorskryf.”

Meer oor:  Fisiese Wetenskap  |  Uitgelekte Vraestelle  |  Vraestel  |  Uitlek  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.