Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Vreugdevure brand hoog in Oos-Kaap

Die vreugdevure het Woensdag hoog gebrand toe matrieks hul uitslae by skole in die Oos-Kaap gaan haal het.

Die provinsie het die tweede jaar agtereenvolgens die beste vordering in die land getoon en het sy matriekslaagsyfer van 70,6% tot 76,5% verbeter.

Uit die 12 onderwysdistrikte het die Nelson Mandelabaai-metro die topplek verwerf met ’n slaagsyfer van 81,4%, wat hom ook die eerste Oos-Kaapse distrik maak om die 80%-kerf te oorskry.

Madelaine Badenhorst, Remi Raymond, Duaan Beer en Samryn Muller van die Hoërskool D.F. Malherbe was verheug oor hul matriekuitslae. Foto: Kailin Daniels
Amoré Nel, Liscka Bosch en Nadine Botes (almal 18) van die Hoërskool Framesby sê hul harde werk het vrugte afgewerp. Foto: Kailin Daniels
By die St. Thomas High School het Lerato Mahonare (19), Masande Tenyane (18), Nomawethu Dyantyi (18) en Litabile Gcezengana (18) in die lug gespring van blydskap. Foto: Lynn Williams
Gretchen November (links) was teenwoordig toe haar dogter, Caith-Linn Page (18), haar uitslae by die Gelvandale High School gaan haal het. Foto: Lynn Williams

Die Hoërskool D.F. Malherbe, Collegiate Girls’ High School en die Al-Azhar Institute in Port Elizabeth bars van trots oor hul 100%-slaagsyfer.

Arno van Wyk, hoof van die Hoërskool D.F. Malherbe, sê hul prestasie is besonders omdat die skool ’n dubbelmediumskool is waar Afrikaans en Engels langs mekaar gedy.

By die Collegiate Girls’ High School het 95% van die matriekleerlinge toelating om vir ’n universiteitsgraad te studeer. 28 leerlinge het A-gemiddeldes.

Een leerling spog met agt onderskeidings, sewe leerlinge met sewe onderskeidings, vyf leerlinge met ses onderskeidings, agt leerlinge met vyf onderskeidings, 11 leerlinge met vier onderskeidings en 15 leerlinge het drie onderskeidings elk.

Die Riebeek College Girls’ High School in Uitenhage is ook trots op sy 100%-slaagsyfer. Nege uit die 75 matrieks het onderskeidings gekry.

Kieran Stear, skoolhoof, sê hulle is trots op die onderwysers en die leerlinge wat die matriekjaar met passie aangepak het.

Stear sê hulle weet dat ’n individu se sukses nie aan uitslae alleen gemeet kan word nie, daarom wil hulle erkenning gee aan die vordering wat die klas van 2019 gemaak het in sowel hul skoolwerk as op sport- en kultuurgebied.

Die Solomon Mahlangu High School het ’n slaagsyfer van 90% en is derde uit die skole in die Uitenhage-distrik.

Die Hoërskool Cradock spog met ’n slaagsyfer van 98,6%.

41 leerlinge kan vir ’n graadkursus studeer en 49 het vakonderskeidings behaal. Die matrikulant Pieter Ben Smit spog met sewe onderskeidings.

Johannes Erasmus is die Hoër Landbouskool Marlow se toppresteerder met ses onderskeidings en ’n gemiddelde van 84%.
Die Hoërskool Brandwag se uitblinkers is van links Dean Truter, Brendan Grassow, Megan Moore, Mariska Rossouw, Adenay Janse van Vuuren, Monique Marais en Jason Rudman.
Martin Labuschagne, Elanie de Wet, Lize-Mari Jonker, Elize-Mari Gerber en Garth Bezuidenhout van die Hoërskool Cradock.
Die Riebeek College Girls’ High School se skoolhoof, Kieran Stear, saam met Lerise Johnson, Monique Balie, Casey Els, Meaghan Botha en Tamia Smith.

Wat sê die matrieks oor hul punte?

Amoré Nel (18) van die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth sê sy het angstig gewag vir haar uitslae, en het selfs begin dink sy het dit nie gemaak nie. Groot was haar verligting toe sy per SMS ingelig is dat sy geslaag het.

“Ek het die hele huis om 06:00 wakker gegil. Ek en my ma het toe sommer sjampanje gedrink – die nie-alkoholiese soort.”

Nadine Botes (18), ook van Framesby, sê sy het ondanks twee operasies aan haar blindederm, goed geslaag.

Nadine het kort voor die eksamen nog vir Engels en musiek in die hospitaal studeer.

Masande Tenyane (18) van die St. Thomas High School sê sy kan Woensdagaand rustiger slaap met die wete sy het geslaag.

“Ek was baie gestres en onder druk omdat ek die eerste persoon in my familie is wat matriek verwerf het. My ma het in trane uitgebars van trots. Ek is bly ek kon haar trots maak,” het dié toekomstige regstudent gesê.

Wanimah Booysen, een van die Gelvandale High School se drie toppresteerders, sê sy het geweet sy gaan slaag, dit was net ’n kwessie van watter uitslae sy sou kry.

“Ek is baie tevrede,” sê sy.

Mandilakhe Gqolana, hoofseun van die Paterson High School, gaan ondanks sy 94% vir fisiese wetenskap vra dat sy vraestel oorgemerk word.

Mandilakhe spog met drie onderskeidings, en kan uit drie universiteite kies waar hy fisika wil gaan studeer.

By die Hoër Landbouskool Marlow is Johannes Erasmus, met ses onderskeidings en ’n gemiddelde van 84%, die skool se toppresteerder.

Die Hoërskool Brandwag in Uitenhage se uitblinkers is Dean Truter (vier onderskeidings), Brendan Grassow (vier onderskeidings), Megan Moore (ses onderskeidings), Mariska Rossouw (twee onderskeidings), Adenay Janse van Vuuren (drie onderskeidings), Monique Marais (vyf onderskeidings) en Jason Rudman (sewe onderskeidings).

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Matrieks  |  Matriekuitslae  |  Toppresteerders  |  2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.