Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Vrystaat-matrieks grinnik oor besigheidstudies

Vrystaatse matrieks is baie tevrede met Donderdagoggend se besigheidstudies-vraestel van 300 punte.

Elizma Geldenhuys, onderwyser aan die Hoërskool Kroonstad (Blouskool), sê leerlinge van die skool wat dié vraestel van drie uur afgelê het, is baie positief daaroor.

“Hulle het gesê hulle het baie lekker geskryf en dit het lekker vrae bevat.”

Geldenhuys sê die Blouskool se matrieks het wel gesukkel om betyds klaar te kry en leerlinge se penne was nog tot op die laaste sekonde in hul hande.

matrieks
Matrieks aan die Hoërskool Heatherdale in Heidedal, Bloemfontein, nadat hulle die besigheidstudies-vraestel afgelê het. Van links is René Vaarland, Nandipha Motsoikha, Thiosha Jacobs, Jevandré Pietersen, Nicole Marou, Clinzon Asnack en Dean Busby (voor). Foto: Marita Herselman

Sy sê dit was ’n goeie standaardvraestel.

“Daar was ’n goeie balans tussen lae- en hoë-orde-vrae. Daar was nie regtig enige vangplekke nie.”

Geldenhuys sê die langvrae is op plekke effens anders as in die verlede gestel. Sy meen wel dit sou nie ’n invloed op hul kennis gehad het nie.

Die vraestel het drie afdelings bevat – ’n verpligte afdeling A, ’n keuse van drie uit vyf vrae by afdeling B en ’n keuse van twee uit vier langvrae by afdeling C. Die twee langvrae het elk 40 punte getel.

Werk oor onder meer besigheidomgewings, -geleenthede, -rolle en -bedrywighede word in die vraestel getoets.

Leerlinge aan die Hoërskool Heatherdale in Heidedal, Bloemfontein, was ook in ’n goeie bui ná die vraestel.

Thiosha Jacobs van dié skool het die vraestel as ’n mengsel tussen maklik en ingewikkeld beskryf.

Thiosha sê voorbereiding vir dié vraestel het toewyding geverg en sy hét hard geleer.

Op die vraag of sy goeie punte hiervoor verwag, sê sy:

“Beslis! Ons is positief.”

Haar klasmaat Jevandré Pietersen glo hy sal die vraestel goed slaag. Hy het die minder gewilde vraag oor wetgewing as een van sy keusevrae in afdeling B beantwoord.

Wat die langvrae betref, het hy by vraag 9, ’n opstel oor spanprestasie en konflikbestuur, “ ’n bietjie vergeet” toe hy moes voorstel hoe besighede moeilike mense in die werkplek moet hanteer.

Nandipha Motsoikha het ook by dié deel van vraag 9 vasgehaak, maar meen die vraestel was nie so moeilik nie.

“Ek glo ek gaan goed vaar. Ek het hard geleer en dit was beantwoordbaar.”

Nicole Marou beskryf die eerste afdeling as “a walk in the park”. Sy sê sy het baie hard geleer, maar haar algemene kennis ook toegepas. Sy is verlig dat dié vraestel afgehandel is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.