Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
VS ‘sal hard werk’ om weer nr. 1 te wees
Ethan Travers en Annah Mokoena is onderskeidelik as die topleerling en top- presterende leerling in die Vrystaat aangewys. Hier is hulle saam met Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat.Foto: Mlungisi Louw

“Dit is ’n klein maar belangrike terugslag – ’n aanduiding daarvan dat ons nie moet rus nie maar die harde werk in die nuwe jaar moet voortsit.”

Dit is die mening van Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, Vrydag op ’n nuuskonferensie oor die matriekuitslae nadat Gauteng die Vrystaat as beste provinsie onttroon het. Op dié geleentheid het Makgoe ook Ethan Travers, oudleerling van St. Andrew’s School in Bloemfontein, as die Vrystaat se topleerling en Annah Mokoena (18) oudleerling van die Tsebo Secondary School in Phuthaditjhaba, as die top- presterende leerling vir 2018 aangewys.

Ethan spog met ’n gemiddeld van 95,57%, terwyl Annah 100% vir fisiese wetenskappe behaal het en sy sodoende as die beste leerling in die land in dié vak aangewys is.

Die Fezile Dabi-distrik in die Vrystaat is ook as die land se beste distrik aangewys met ’n slaagsyfer van 92,3%.

Honderd skole in die Vrystaat het ook ’n 90%-slaagsyfer of hoër en 40%-universiteitstoelating of hoër behaal.

Daarbenewens is die Vrystaat ook die enigste provinsie in die land wat ’n 80%-slaagsyfer in fisiese wetenskappe kon behaal.

Makgoe sê hoewel die Vrystaat nie meer nommer een is nie, het die provinsie steeds rede om fees te vier.

“Ons vier die harde werk van die afgelope tien jaar van elke betrokkene in die onderwysdepartement. Ons sou nie die uitslae die afgelope dekade behaal het as dit nie vir elkeen se opofferings was nie. Dankie.”

Die Vrystaatse onderwysdepartement het Vrydag die harde werk van leerlinge en onderwysamptenare gevier. Hier is Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, saam met Annah Mokoena en Ethan Travers. Foto: Mlungisi Louw
Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, sê die provinsie sal hard werk om weer nommer een in 2019 te wees. Foto: Mlungisi Louw

Ethan, wat vanjaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, sê hy het glad nie verwag om as die beste leerling in die provinsie aangewys te word nie.

“Ek het vir die top-100 gemik en nooit het ek gedink dat ek as die topleerling in die Vrystaat aangewys sal word nie.”

Hy sê alle eer kom God toe.

Vir Ethan, wat sy skool se hoofseun was, is harde werk, balans en konsekwentheid deel van sy resep vir sukses.

Chris Thomas, hoof van St. Andrew’s School, sê hulle is geweldig trots op Ethan.

Annah, die enigste leerling in die Vrystaat wat na die nasionale onderwysdepartement se prestigegeleentheid genooi is, was oorstelp van vreugde oor haar uitsonderlike prestasie. Sy spog ook met ses onderskeidings.

Annah sê ten spyte daarvan dat haar skool oor beperkte hulpbronne beskik, het sy hard gewerk, want sy weet dit word een of ander tyd beloon.

Sy sê sy het aan die begin van 2018 vir haarself ’n doelwit gestel en hard gewerk om dit te bereik.

Die slimkop gaan vanjaar medies aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer en wil graag in neurologie spesialiseer.

Meer oor:  Vrystaat  |  Matriek2018  |  Matriekuitlae2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.