SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Matrieks
Wes-Kaap se top-matrieks vereer

Harde werk en toewyding is wat matriekleerlinge benodig om in dié moeilike jaar te presteer, en om deurentyd gemotiveerd te bly.

Die top-40 matrikulante in die Wes-Kaap en matrikulante wat spesiale pryse gekry het, staan Donderdag by Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, en Brian Schreuder, hoof van die Wes-Kaapse departement van onderwys, by die premierswoning Leeuwenhof. Foto: Adrian de Kock

Dit is die raad van Justine Crook-Mansour van Kaapstad wat ondanks haar pa se dood aan kanker in 2018, steeds die beste matriekuitslae in die land behaal het.

Sy het Donderdag by die premierswoning Leeuwenhof gesê sy was nogal verras om die top-matriekleerling te wees en is trots op haarself, terwyl dit ’n “baie moeilike jaar was”.

“Dit verg harde werk, toewyding en jy moet gemotiveerd bly.”

Crook-Mansour, oudleerling van die Rustenburg Girls’ High School in Rondebosch, het ook haar oupa in 2018 aan die dood afgestaan. Dit nadat kanker in 2016 by haar pa gediagnoseer en hy in Julie 2018 skielik dood is.

Sy wil astrofisika aan die Universiteit van Kaapstad studeer en sê sy wou iets met wiskunde en fisika doen, omdat sy mal daaroor is om met syfers te werk.

Die Wes-Kaap se top-matrieks is Donderdag by Leeuwenhof in Tuine vereer, asook skole wat presteer en matrikulante wat onder moeilike omstandighede uitgestyg het.

Lise Mari van Wyk van die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester en Ancilla Julius van die Dominikaanse Skool vir Dowes is ook vereer as die matrikulante in spesiale skole en skole vir dowes wat die beste uitslae in die provinsie behaal het. Hulle het onderskeidelik ook die derde hoogste punte landwyd vir leerlinge in ’n spesiale skool en vir gebaretaal behaal.

Van Wyk gaan drama aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer en wil ’n aktrise word.

“Dis my passie en ek sal wil oorsee gaan om my loopbaan voort te sit. Dit was ook baie lekker om in radioproduksies te werk en ek sal dit beslis weer doen.”

Die Wes-Kaap se topvyf-matrikulante staan Donderdag by Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, en Brian Schreuder, hoof van die Wes-Kaapse departement van onderwys, by ’n geleentheid in Kaapstad vir 2018 se matrieks. Van links is Charlotte Louw van Herschel Girls’ School, Kamva Goso van Intsebenziswano Secondary School, Debbie Schäfer, Justine Crook-Mansour van Rustenburg Girls’ High School, Brian Schreuder, Derek Reissenzahn van Diocesan College en Timothy Schlesinger van Rondebosch Boys’ High School.Foto: Adrian de Kock

Van Wyk sê sy het die meeste gesukkel om haar tyd vir al haar vakke reg op te deel, omdat sy meer vakke as die meeste leerlinge gehad het. Sy het ander blinde leerlinge aangemoedig om te studeer in dit wat hulle lief is om te doen.

Ntokozo Genu, oudleerling van Zola Secondary School , Trazeen Mbidlana, oudleerling van die Hoërskool Grabouw, en Lance Minnies, oudleerling van die Hoërskool AZ Berman in Mitchells Plain, het ook die spesiale ministeriële prys gekry vir leerlinge wat in moeilike omstandighede presteer het.

Minnies is in 2016 erg beseer in ’n brand waarin agt van sy vriende dood is. Hy het twee van hulle vergeefs probeer red. Hy was vyf maande in die hospitaal waar hy onder meer ’n veloorplanting gekry het.

“Ek moes uiteindelik gr. 11 herhaal en het toe in my matriekjaar depressief geraak en gevoel dit raak te veel. Ek wou net opgee, maar is dankbaar vir my onderwyseresse wat na my huis toe gekom en potensiaal in my raakgesien het. Hulle het my aangemoedig dat daar ’n toekoms vir my is. As hulle nie daar was nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie.”

Minnies sê hy het swaar grootgeword en “wil dit nie vir my kinders hê nie”. Hy is die eerste lid van sy familie wat gematrikuleer het.

’n Foto van Keishia Ruiters (19), ’n matriekleerling van Elsiesrivier, Kaapstad, wat die 2018 haar matriekeksamen voltooi het en op 4 Desember haar stryd teen leukemie verloor het nog voordat sy haar uitslae kon kry. Sy het 94% behaal in geskiedenis, haar gunsteling vak.Foto: Adrian de Kock

Die Wes-Kaap spog ook met Kamva Goso van Intsebenziswano Secondary School in Philippi, wat die top-leerling landwyd uit ’n kwintiel 2-skool is en die naasbeste punt vir fisiese wetenskappe behaal het.

Daarby het Timothy Schlesinger van Rondebosch Boys’ High School die naasbeste punt landwyd vir wiskunde gekry en het Liam Gurney van Westerford High School het die derde plek behaal.

Lance Minnies van die Hoërskool AZ Berman in Mitchells Plain, Kaapstad, is een van drie Wes-Kaapse matrikulante wat Donderdag ’n spesiale ministeriële prys gekry het vir leerlinge wat in moeilike omstandighede uitgestyg het. Foto: Adrian de Kock

Jean Durand van Paul Roos Gimnasium het ook die derde hoogste punt vir fisiese wetenskappe landwyd behaal.

Van die provinsie se skole het 70 (15,7%) ’n 100%- slaagsyfer behaal en 137 skole (40%) ’n slaagsyfer van 90% en hoër.

By 31 skole het 90% universiteitsvrystellings ontvang, terwyl Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch die enigste staatskool in die Wes-Kaap is waar almal universiteitsvrystellings behaal het.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, het ’n huldeblyk aan Keshia Ruiters van Elsiesrivier gelewer. Sy het haar matriekeksamen voltooi, maar is verlede maand dood aan kanker.

Ruiters, ’n oudleerling van die Marian RC Secondary School, het matriek herhaal nadat leukemie in 2017 op 18-jarige ouderdom by haar gediagnoseer is. Sy het van haar taalvraestelle in die hospitaal geskryf en haar eksamen op 26 November voltooi. Sy is op 4 Desember dood.

In geskiedenis, haar gunstelingvak, het Ruiters 94% behaal en sy het met universiteitsvrystelling geslaag.

“Ons wens haar ma geluk dat sy so ’n merkwaardige jong vrou grootgemaak het. Ek hoop sy sal as ’n inspirasie vir baie mense dien,” het Schäfer gesê.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Matriekuitslae  |  Toppresteerders  |  Matrieks 2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.