SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Matrieks
Wes-Kaap spog met SA se toppresteerder

’n Leerling van die Wes-Kaap het die hoogste punte in die land in die 2018-matriekeksamen behaal.

Wat Justine Crook-Mansour van Rustenburg Girls’ High School in Rondebosch, Kaapstad, se prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat haar pa kort voor haar eksamen dood is. Sy het ook haar oupa in haar matriekjaar verloor.

Justine se pa, Edgar Mansour, het long-, lewer- en kolonkanker gehad. Dinge het in 2016, toe hy aanvanklik gediagnoseer is goed gelyk vir hom om te herstel, maar hy is in Julie verlede jaar skielik dood. Hy het in Frankryk gewoon.

Justine kon nie die begrafnis bywoon nie omdat haar eksamen dae daarna sou plaasvind.

“Ek wou baie graag daar wees, maar vanweë die tydsberekening en koste daaraan verbonde het ek en my ma besluit ons sal in Desember by sy familie gaan kuier, en sy graf besoek,” se Justine.

Sy en haar ma was by familie toe sy die nuus kry dat sy genooi word vir ’n ontbyt saam met die minister.

Justine Crook-Mansour, die topmatriek in Suid-Afrika. Foto: Jaco Marais

Justine is Vrydag aangewys as die topleerling in die land. Sy is beskeie oor haar punte per vak, maar sy het agt onderskeidings behaal en ’n gemiddeld van 97,6%. Sy het ook 100% vir geskiedenis gekry.

Mnr. Michael Gates, die skoolhoof van Rustenburg Girls’ High School, sê die skool is geweldig trots op Justine se uitstekende resultate in haar NSS-eksamen.

“Ek was in die wolke toe ek die nuus hoor. Ek was so ongelooflik trots op haar,” sê Glynnis Crook, Justine se ma wat ’n joernalis is.

“Ons het nie verwag sy gaan so goed doen nie omdat die paar maande voor die eksamen vir haar baie moeilik was. Sy het haar pa sowel as haar oupa verloor.”

Justine se oupa was ook ’n kankerlyer, maar het vermoedelik aan natuurlike oorsake gesterf. Dit was gedurende haar eindeksamen en dit was vir haar baie moeilik om te verwerk.

“My ma het my daardeur gedra,” se Justine.

“Sy was nog altyd my rots en het my deur alles ondersteun.”

Justine is Rustenburg Girls’ High se dux-leerling vir 2018 en het regdeur die jaar ’n gemiddeld van meer as 95% behaal.

As ek soms moeg geraak het vir leer tydens eksamentyd het ek sommer ’n paar keer op en af teen ’n steil bult by ons huis gaan loop. Nadat die hokkieseisoen verby is, het ek steeds gevoel ek het die oefening nodig.

Die Karen Wiese-trofee, wat jaarliks aan iemand toegeken word wat volgens haar medeleerlinge groot struikelblokke met waardigheid oorkom het, is aan Justine oorhandig. Justine se klasmaats het vir haar gestem om die trofee te ontvang en haar op die unieke manier vereer.

In haar matriekjaar het sy pryse gewen vir Engels (huistaal), Afrikaans (eerste addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap en Frans (tweede addisionele taal).

Justine het ook gereeld deelgeneem aan uitreikprogramme, genaamd Habitat for Humanity en Interact. Sy was redakteur van die skool se studentepublikasie, The Bug, en was deel van die noodhulpspan.

Sy wys ook graag haar talent op die sportveld. Justine was in die skool se tennis- en landloopspan. Sy het van gr. 8 af klub- en skoolhokkie gespeel en was deel van die skool se A-span in hokkie wat in 2017 in België en Nederland getoer het.

Justine besluit nog of sy astrofisika of megatroniese ingenieurswese gaan studeer. Sy is by die Universiteit van Kaapstad vir albei aanvaar. Sy het ook onlangs uitgevind sy het ’n beurs van Allan Gray ontvang.

Astrofisika het haar belangstelling geprikkel toe sy op ’n uitstappie na Sutherland se sterrewag gegaan het.

Ek het daar onder die sterre gestaan en die melkweg bekyk en was dadelik in vervoering.

“Ek het daar onder die sterre gestaan en die melkweg bekyk en was dadelik in vervoering.”

Volgens die uitblinkermatriek is daar ’n paar dinge wat tot haar sukses bygedra het. Dit was nie net harde werk nie, maar ook die balans tussen akademie, sport en ontspanning.

“As ek soms moeg geraak het vir leer tydens eksamentyd het ek sommer ’n paar keer op en af teen ’n steil bult by ons huis gaan loop. Nadat die hokkieseisoen verby is, het ek steeds gevoel ek het die oefening nodig,” sê sy.

Verder skryf sy dit toe aan ’n positiewe ingesteldheid en vasbeslotenheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.