Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Wes-Kaap verheug oor uitslae

Vreugdevure het Vrydag hoog gebrand by skole in die Wes-Kaap waar duisende matrieks hul uitslae gekry het.

Die Wes-Kaap se matriekslaagsyfer vir 2018 is op 81,5% laer as die 84,4% van 2017.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê hoewel die matriekuitslae ietwat swakker is as vorige jare, is die gehalte van die uitslae iets om op trots te wees.

Matrikulante van die Masibambisane High School in Delft juig toe Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, hul uitslae bekend maak. Foto: Adrian de Kock

Sy het Vrydag in die vreugde van die Masibambisane High School in Delft gedeel en self die matrieksertifikate uitgedeel.

Dié skool wat in die verlede ’n swak matriekslaagsyfer gehad het, het sy slaagsyfer van 48,1% in 2017 tot 79,1% verbeter. Schäfer sê die skool het sy slaagsyfer met 31,1 persentasiepunte verbeter.

Sy het die 41 350 leerlinge in die provinsie wat die paal gehaal het, gelukgewens.

Schäfer sê die Wes-Kaapse regering het nog altyd volgehou dat gehalte-aanwysers ver bo die algehele slaagsyfer as maatstaf gebruik moet word.

Ek is dus bly dat ons gehalte-aanwysers weer ’n volgehoue verbetering in die Wes-Kaap toon.

“In die provinsie fokus ons op die gehalte van die slaag en die behoud van soveel leerlinge as moontlik in die skoolstelsel sodat die beste moontlike geleenthede vir jong mense verseker kan word.

“Ek is dus bly dat ons gehalte-aanwysers weer ’n volgehoue verbetering in die Wes-Kaap toon,” sê Schäfer.

Sy sê die totale persentasie kandidate wat matriek geslaag het, het van 75,7% in 2009 tot 81,5% in 2018 toegeneem – ’n styging van 5,8 persentasiepunte.

In 2009 was die matriekslaagsyfer in kwintiel 1-skole (die armste skole) 57,5% terwyl dit in 2018 op 70,5% staan. Daar is ook in dieselfde tydperk stygings in die slaagsyfer van 10,6 persentasiepunte in kwintiel 2- en 15,6 persentasiepunte in kwintiel 3-skole.

Schäfer, het Gauteng gelukgewens met sy topposisie vir die matriekslaagsyfer en bygevoeg dat die Wes-Kaap self verskeie prestasies het om op trots te wees.

Nobesuthu Mjila, skoolkringbestuurder, Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, en Kayalethu Boesman, hoof van Masibambisane High School in Delft. Foto: Adrian de Kock

Dit sluit in dat daar ’n toename in leerlinge is wat met universiteitsvrystelling geslaag het, asook dat die provinsie hom weer as die voorloper in wiskunde- en wetenskap gevestig het.

In wiskunde het die Wes-Kaap weer die hoogste slaagsyfer behaal, wat van 73,9% in 2017 tot 76% gestyg het.

In fisiese wetenskappe het die Wes-Kaap ’n slaagsyfer van 79,5% behaal teenoor 72% in 2017.

Die wetenskap-slaagsyfer het van 52,9% in 2009 tot 79% in 2018 gestyg - ’n indrukwekkende styging van 26,1 persentasiepunte.

Ons glo dit is ’n baie meer akkurate voorstelling van sukses.

Schäfer sê die Wes-Kaapse regering glo die behoud van meer leerlinge in die skoolstelsel is baie belangrik. Hulle kry die geleentheid om die NSS te slaag eerder as dat hulle langs die pad “verloor” word sodat skole ’n hoër slaagsyfer kan behaal.

“As ons dus die NSS se slaagsyfer oorweeg, is dit belangrik dat ons die behoud van leerlinge in ag neem deur die aantal kandidate wat vir die NSS-eksamen ingeskryf het, te vergelyk met die aantal leerlinge wat twee jaar gelede vir gr. 10 ingeskryf het.”

Dit sê sy, staan bekend as die “regte matriekslaagsyfer”.

Sy voer aan dat die uitslae van die “regte matriekslaagsyfer” vir die NSS 2018 ’n veel ander prentjie skets as wat deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bekend gestel is.

“Dit is teleurstellend dat sy nie die uitslae gebruik het, wat volgens die “inklusiewe mandjie kriteria” oor die afgelope twee jaar bereken is nie.”

Die kriteria sluit in faktore wat ander aanwysers van sukses aandui soos wiskunde, wetenskap, universiteitsvrystelling en die behoud van leerlinge.

“Ons glo dit is ’n baie meer akkurate voorstelling van sukses,” sê sy.

Meer oor:  Wkod  |  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Matriekeksamen2018  |  Matrieks  |  Matriekuitlae2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.