Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Merinoboer-koning betower Aussies
'n Groep internasionale merinoboere het bladgeskud met koning Letsie III van Lesotho, wat die gasspreker was op die Heuningkrans-stoetery by Smithfield se verwelkoming van die groep die week. Hier neem Georgina en Phil Toland 'n foto saam met die kon

SMITHFIELD. – Doer Onder het hulle ’n effens afwesige koningin. In die Vrystaat kon hulle selfies neem met ’n regte koning.

Met hul 88-jarige koningin duisende myle weg in Brittanje, het die Aussies omtrent ’n koning hier oorval vir foto’s.

Min van die wolskaapboere van Australië het seker al gehoor van Lesotho.

Tog het hulle koning Letsie III van Afrika se klein bergkoninkryk omtrent oorval.

’n Groep merinoboere van Australië, Nieu-Seeland, Hongarye en een van Japan het by Eddie en Lizette Prinsloo op Heuningkrans (“Honey Cliff” het Danie Vorster die naam verduidelik) kom kuier om sy stoetskape te beloer.

Die groep toer na skaapplase in die Vrystaat en Karoo tot in Stellenbosch waar die Wêreld-merinokongres die naweek begin.

Koning Letsie III, ’n ou vriend en kliënt van Prinsloo, was die gasspreker op die seremonie in die nuwe wolskuur op die plaas.

Die Aussies het omtrent Rambo, ’n stoetram wat by die deur gepronk het, betas en bespreek dat hy naderhand skaam gelyk het. Koning Letsie III het hul voete onder hulle uitgeslaan.

Veral omdat die koning ook ’n merinoboer in Lesotho is.

Hulle het dosyne foto’s van hulle saam met hom geneem. Hy is selfs afgeneem waar hy weglê aan sy bord skaapvleis.

“Eddie is my mentor. Ek het die direkte bestuur van die familie se skaapkudde oorgeneem om dit te ontwikkel en te verbeter. Eddie het my geleer en ek leer steeds van hom. As ek myself vandag ’n merinoboer noem, is dit omdat ek op Eddie se skouers staan,” het die koning gesê.

Rob Ashby, president van die Wêreldfederasie van Merinotelers van Australië, was beïndruk met die skape wat hy in twee dae in die Vrystaat gesien het. Jan van Biljon, SA vleismerinoteler van Viljoenskroon, se reuse-skape het hom omtrent uitgeboul.

Hy was in 1990 laas in Suid-Afrika en met ’n eerste blik na Heuningkrans se stoetramme kon hy sien dat die Suid-Afrikaanse merino heelwat gladder van lyf geword het, wat ook die neiging tuis is. Oral is meer klem op vleis én gehalte-wol geplaas.

“My boodskap aan merinoboere op die kongres sal wees om seker te maak die waardes van die merino is oral perfek en om die skaap ekonomies volhoubaar te produseer.”

Die afgelope 15 jaar is baie bereik: Vrugbaarheid en groeitempo is verbeter, vleisproduksie is aangepas en die goeie wol word in die goeie wolpryse gereflekteer, het hy gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.