Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Minister ‘het goeie rede gehad’ om Krygkor-hoës te pos

PRETORIA. – Die minister van verdediging het “goeie rede” gehad om Krygkor se voorsitter en sy adjunk af te dank, hoewel sy onregmatig opgetree het.

Krygkor het onder lt.genl. Mojo Motau as voorsitter en Refiloe Mokoena, sy adjunk, nié op “ ’n doeltreffende of ekonomiese wyse” gefunksioneer nie.

Só het regter Sisi Khampepe gister in die konstitusionele hof in ’n meerderheidsuitspraak gesê voordat sy gelas het dat Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, se besluit om Motau en Mokoena in die pad te steek nie tersyde gestel word nie.

Die minister het haar tot die hof gewend nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria bevind het haar optrede was “onregmatig en ongrondwetlik”.

Khampepe het gesê die minister se magte oor Krygkor strek wyd ingevolge die bepalings van die Krygkorwet. Die minister is die toesighouer van Krygkor wat moet verseker dat hy aan sy statutêre mandaat voldoen en in nasionale belang optree.

Die minister moet ’n voorsitter en adjunkvoorsitter vir Krygkor se raad kies wat aan sy doelwitte kan voldoen en die visie van die departement van verdediging deel.

Die departement moes R71 miljoen opdok weens die “wanfunksionele” Krygkor-raad se gesloer met die aankoop van toerusting.

Khampepe het benadruk dat Motau en Mokoena in die raad aangestel is vir hul kundigheid en ervaring sodat hulle juis Krygkor se sake behoorlik en doeltreffend kon bestuur.

Khampepe het gesê daar is geen behoorlike verduideliking vir die onbevredigende stand van sake by Krygkor nie en daarom het die minister goeie rede gehad om op te tree.

Die regte prosedures ingevolge die Wet op Maatskappye is egter nie gevolg nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.