Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
1 800 kinders in 2 boekjare vermoor
Fikile Mbalula Foto: Jaco Marais

Meer as 1 800 kinders is in net twee boekjare oor Suid-Afrika heen vermoor.

Fikile Mbalula, minister van polisie, maak dié onthulling in ’n geskrewe parlementêre antwoord.

Dit nadat Hermanus Groenewald, ’n DA-LP, dié statistieke vroeër in ’n parlementêre vraag by Mbalula wou weet.

In sy antwoord hierop het Mbalula gesê dat 846 kinders in die 2013-’14-boekjaar landwyd vermoor is, terwyl 969 kinders in die daaropvolgende boekjaar vermoor is.

Mbalula het onder meer ook onthul hoe messe die moordwapen in 604 van die gevalle was. Vuurwapens was in 397 gevalle die moordwapen. In 177 gevalle is kinders met die kaal hande vermoor.

Sowat 25 kinders is ook vergiftig, 23 met byle doodgekap, en 11 met sambokke doodgeslaan. In twee gevalle is kinders weens petrolbomme dood en ’n handgranaat was in een geval verantwoordelik vir die dood van ’n kind.

Dianne Kohler Barnard, DA-adjunkwoordvoerder oor polisie, het Donderdag gesê die vraag oor kindermoord-statistieke is reeds in 2014 deur die DA aan die vorige minister van polisie in ’n parlementêre vraag gevra.

Mbalula se antwoord is Woensdag deur die parlement uitgereik.

“Dit spreek boekdele oor die gebrek aan dringendheid by die regering om die plaag van kindermoorde te pak.”

Volgens Kohler Barnard probeer die DA al die afgelope tien jaar om statistieke oor kindermoorde in die land te kry, maar word die party gefrustreer deur ’n regering “wat onwillig is om die krisis te pak”.

Die statistieke is ’n duidelike bewys dat die regering die land se kinders faal.
Kohler Barnard, DA.

Sy het gesê die statistieke is ’n duidelike bewys dat die regering die land se kinders faal en dat hul “stilte oor die aangeleentheid onaanvaarbaar is”.

Die DA gaan Mbalula verder druk om ook te onthul hoeveel kindermoordenaars vervolg of skuldig bevind is, sowel as wat sy departement doen om die “toenemende krisis” te pak.

Vroeër is ook berig hoe 36 kinders, van pasgeborenes tot 18-jariges, van Januarie tot September vanjaar net in die Wes-Kaap in bendeverwante skietvoorvalle dood is.

Intussen het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Donderdag gesê dat Mbalula se versoek dat die weermag in die Wes-Kaap en Gauteng ontplooi moet word om misdaad te help bestry, ’n erkenning is dat misdaad buite beheer is.

Volgens Groenewald moet oudpres. Thabo Mbeki en pres. Jacob Zuma geblameer word omdat hulle sedert 1999 mislukte nasionale polisiekommissarisse aangestel het.

Hy het bygevoeg dat die land tans ook die “wrang vrugte pluk” van die politieke kaping van die intelligensie-instellings wat vir politieke doelwitte aangewend word eerder as om misdaad te help bestry.

“Drastiese stappe moet gedoen word en ingryping is nodig by die polisie aangesien misdaad die land na die rand van anargie dryf.”

Volgens Groenewald het gemeenskappe vertroue in die polisie verloor en is dit ontstellend hoe gemeenskappe al hoe meer die reg in eie hande neem en self met misdadigers afreken.

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Kinders  |  Boekjaar  |  Kindermoord  |  Kindermoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.