Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
1 875 moorde in W-Kaap: Wáár is die polisie? vra DA

“Net in die laaste ses maande is 1 875 mense in die Wes-Kaap vermoor. Dit beteken dat baie van ons mees kwesbare inwoners in die provinsie in ’n oorlogsone woon,” sê Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid.

Die provinsiale regering in die Wes-Kaap sal nou tot die volgende stap oorgaan om druk te plaas op Bheki Cele, minister van polisie, om in te gryp.

Fritz het daarop gewys dat die Verenigde Nasies en ander soortgelyke instellings oorlog algemeen definieer as ’n konflik wat meer as 1 000 lewens geëis het.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Peter Abrahams/SON

Die Wes-Kaapse regering oorweeg nou regstappe teen Cele indien hy nie instem tot ’n dringende vergadering nie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Maandag gesê hy het nog nie ’n antwoord ontvang van Cele sedert die provinsie in April ’n inter-regeringsdispuut met die nasionale polisie verklaar het nie.

“Dié verlengde tydperk van swye laat ons toe om eensydig op ’n datum vir ’n vergadering om bemiddeling te besluit.”

Volgens Winde is op 4 Julie besluit as ’n gepaste datum om te vergader om die aard van die dispuut te bepaal, ander maniere as die howe te vind om dit op te los en op die implementering ooreen te kom.

“Minister Cele word ’n geleentheid gegee om duur en uitgerekte regstappe te voorkom, maar dié venstertydperk gaan verstryk. Ons inwoners verdien sy samewerking, maar al wat ons kry, is doodse stilte.”

Winde sê in die afgelope naweek alleen was daar hopeloos te veel bendegeweld en 14 sterftes is binne 24 uur aangemeld.

“Ons mense lewe in vrees en die jeug word aangeval. As provinsie word ons oorsigrol sover as moontlik gestrek, maar sonder doeltreffende wetstoepassing, groter getalle polisielede, misdaadintelligensie en behoorlike bestuur sal misdaad in ons stedelike en landelike gebiede hoogty vier.”

As LUR vir gemeenskapsveiligheid het Winde reeds in Oktober en Desember verlede jaar aan die minister geskryf en besonderhede oor die “dringende behoeftes vir polisiëring in die provinsie” verstrek. Die dispuut is in April verklaar nadat geen reaksie ontvang is nie.

03-05-2018   NETWERK24   Die lyk van ?n 36-jarige
Die lyk van 'n 36-jarige man is op 3 Mei gevind langs die Buttskop-spooroorgang.

LEES OOK: Wes-Kaap verklaar dispuut met Cele

Die behoeftes en prioriteite vir polisiëring wat aan die minister gestuur is, sluit in die toewysing van voldoende hulpbronne in die Wes-Kaap en verwys na die “geskiedkundige onderbemanning” in die provinsie wat tot ’n tekort van 4 500 polisielede gelei het.

Die behoefte aan hulpbronne vir misdaadintelligensie en sigbare polisiëring by elke polisiekantoor in gebiede van die Kaapstad metro wat onder bendegeweld gebuk gaan, is ook uitgewys.

Verder is op die voortdurende aanvalle op mense, eiendom en veral op die infrastruktuur vir openbare vervoer, asook aanvalle op skoolterreine en onderwysers uitgewys.

Daar is ook ’n beroep gedoen om meer openbare-ordepolisie om grondbesettings en onluste doeltreffend die hoof te bied.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Die provinsiale regering het ook sy steun vir die reservisteprojek uitgespreek en aangebied om bykomende polisiehulpbronne te finansier.

Cele het verlede maand in ’n TV-onderhoud gesê hy twyfel dat misdaad in die Wes-Kaap aan die toeneem is en meen dit gaan eerder daaroor of mense veilig voel.

LEES OOK: Winde vra ondersoek na misleiding oor misdaadsyfers

Hy het ook beweer dat die provinsiale regering oor die verhouding van die aantal polisielede tot die bevolking “lieg” en ontken dat daar nie met die Wes-Kaapse regering saamgewerk word nie.

Hy het Winde as LUR as “problematies” beskryf en gesê sy voorganger, Dan Plato, het nie dieselfde klagtes geopper nie.

Cele het daarop gewys dat die stigting van die polisie se bende-eenheid in die Wes-Kaap asook die projekte vir bykomende polisielede van die noue samewerking in die provinsie getuig.

Winde het daarna gesê dat die verhouding van een polisielid vir 509 inwoners in die provinsie en een tot 560 in Kaapstad uit ’n antwoord van die polisie op ’n parlementêre vraag in Desember 2018 kom.

In dié tyd was die nasionale gemiddeld een polisielid vir 375 inwoners.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.