’n Vrou is dood en ’n dokter en sy assistent gewond in ’n skietery Woensdag by ’n dokter se spreekkamer in Mabopane, noord van Pretoria.
Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is omstreeks 16:34 na die toneel in Peter Magano-straat ontbied.
“Volgens ooggetuies het ’n onbekende aantal mans met vuurwapens by die dokter se spreekkamers ingestorm en geld geëis. ’n Ontvangsdame is tydens die voorval doodgeskiet. Die dokter en ’n vrou, vermoedelik sy assistent, is ook gewond,” het Herbst gesê.
Die dokter is met ’n private voertuig na die hospitaal gehaas. Hy is daarna per lugambulans na ’n spesialis-eenheid geneem.
“Omstandighede wat tot die voorval gelei het, sal deur die betrokke owerhede ondersoek word,” het Herbst gesê.
Kapt. Kay Makhubela, Gautengse polisiewoordvoerder, het nie Woensdagaand op navrae oor die voorval reageer nie.