Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
1 dood, 3 beseer by taxistaanplek

’n Taxibestuurder is dood en drie mense beseer toe hulle Maandag by die Plaza-taxistaanplek op die R55 in Olievenhoutbosch, naby Midrand, aangeval is.

’n Argieffoto van polisiebeamptes wat agter ’n polisievoertuig skuil gedurende taxigeweld in Johannesburg. Foto: Werner Beukes

“Volgens ’n voorlopige ondersoek is verskeie skote omstreeks 05:00 op die insittendes van ’n motor afgevuur. Die bestuurder van die motor is dood en drie mense is in ’n kritieke toestand na die hospitaal geneem,” het brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, by navraag aan Netwerk24 gesê.

Hoewel Peters nie oor die motief van die skietery wou uitwei voordat die ondersoek afgehandel is nie, het sy bevestig dat die motor aan ’n taxivereniging behoort.

“Klagte van moord en poging tot moord word ondersoek,” sê Peters.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is al die slagoffers in die bolyf geskiet.

“Die bestuurder van die motor was steeds agter die stuur toe die paramedici op die toneel aankom. Die ander mense het buite die motor op die teerpad gelê. Die bestuurder is verskeie kere geskiet en op die toneel dood verklaar. Die ander mense is op die toneel deur paramedici gestabiliseer en na ’n hospitaal geneem,” sê Meiring.

’n Spesiale kommissie van ondersoek oor taxigeweld in Gauteng, wat gelei word deur die afgetrede regter Jeremiah Shongwe, sal na verwagting Woensdag in die Emoyeni-konferensiesentrum in Parktown, Johannesburg, begin.

David Makhura, premier van Gauteng, het die kommissie aangestel om knelpunte in die taxibedryf, soos die voortslepende geweld in die provinsie, te ondersoek.

Makhura het die kommissie ses maande gegee om sy werk te voltooi en ’n verslag en aanbevelings aan hom voor te lê.

*Enigiemand met inligting oor die skietvoorval in Olievenhoutbosch kan hul naaste polisiekantoor of die Stop Misdaadnommer 08600 10111 bel. Mense kan ook ’n wenk aan die polisie gee deur die MySAPS-app op hul slimfoon af te laai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.