Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
1 jaar ná Nuwejaar-skietery: Verdagtes steeds soek

’n Jaar later soek die slagoffers van die Nuwejaar-skietvoorval in Melville, Johannesburg, steeds na antwoorde.

“Om eerlik te wees, ek het geen vertroue in die polisie om my vrou se saak op te los nie,” sê Sherwin Basdew.

Sy vrou en die liefde van sy lewe, Samantha, is in een van drie skietvoorvalle op Nuwejaarsdag in Johannesburg in die kop geskiet en is dood.

Die voorvalle was onderskeidelik in Melville, Newtown en Parkhurst.

‘n Foto van Sherwin Basdew en sy vrou, Samantha. Foto: Facebook

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het bevestig niemand is nog vir die voorvalle in hegtenis geneem nie. ’n Beloning word nog aangebied vir enigiemand met inligting wat tot inhegtenisnemings sal lei, het Peters Vrydag gesê.

Dit keer egter nie die lewe om voort te gaan nie, het Ralph Fredericks, een van die slagoffers, Vrydag moedeloos aan Netwerk24 gesê. Hy was in 2020 een van 19 mense wat in die vroeë oggendure op 1 Januarie 2020 by partytjies was wat die Nuwejaar gevier het en daar gewond is.

Fredericks was by die Poppy’s Restaurant in Melville waar Liana Petersen en Samantha Basdew dood is toe ’n man omstreeks 01:00 in ’n BMW-sportnutsvoertuig op partytjiegangers losgebrand het. Nog ses mense is in dié verbyryskietery gewond.

Op die Mary Fitzgerald-plein in Newtown is 11 mense gewond. Die polisie het destyds bevestig dat die BBP-gedeelte in die vierkant glo die teiken van ’n skieter was en die skote is omstreeks 03:00 van die brug op die M2-snelweg geskiet.

Nog twee mense is ook in dieselfde tyd in ’n skietvoorval by die Jolly Cool-kroeg en -restaurant in Parkhurst gewond.

“Dit is vir my onaanvaarbaar dat die polisie nie die skieters kan opspoor nie. Die stad is oortrek van veiligheidskameras wat die verdagte voertuie moes opgetel het,” sê Basdew.

Sherwin Basdew het dié boodskap op Vrydag 1 Januarie 2021 geplaas. Dit was presies op dié dag, ’n jaar terug, wat sy vrou wreed vermoor is in ’n verbyryskietery by die Poppy’s-restaurant in Melville waar hulle saam die Nuwejaar gevier het. Foto: Facebook

Die Poppy’s-restaurant het intussen na ’n ander perseel in Melville verskuif en ’n nuwe Oosterse restaurant het op hul ou perseel oopgemaak. Vrydag was daar geen blomme of boodskappe van herinnering voor enige van die plekke nie.

Deon Ebden, woordvoerder van Poppy’s, het bevestig die restaurant het besluit om na ’n perseel te verskuif wat veiliger is en op ’n tweede verdieping geleë is.

Die restaurant het in Oktober sake op die nuwe perseel begin doen. Die inperking was egter ’n tweede slag vir die restaurant.

“Ons het net lekker aan die gang gekom, toe moes ons weer sluit. Ons hoop maar dit is tydelik,” sê Ebden.

Die akteur en sanger Mortimer Williams was by die restaurant en onthou dit was presies om 01:10 toe alle hel om hom losgebrand het.

“Ek het gisteraand ’n kers aangesteek en presies daardie tyd het ek veral gedink dit was toe alles gebeur het . . .” het Williams Vrydag telefonies uit die Kaap gesê.

Hy is in sy nier getref en het ook ’n heupfraktuur opgedoen.

Williams sê hy het darem nie sy sin vir humor verloor nie.

Polisie soek nog na die verdagte persoon wat in dié swart BMW-sportnutsvoertuig op 1 Januarie 2020 op partytjiegangers in die Poppy’s-restaurant in Melville, Johannesburg, losgebrand het.

“Gisteraand het my vriend, wat my tien minute ná die skietery op die toneel bygestaan het, my gebel en gevra of ek veilig by die huis is. Toe ek vir hom sê ja, sê hy, hy kan nou met ’n geruste hart gaan slaap, want dié jaar is ek veilig,” het Williams geskerts.

Hy het veral die tyd saam met sy vrou, dogter en ander familie in die feestyd gekoester ná dit wat hy verlede jaar deurgemaak het.

Basdew wou Vrydag ’n spesiale huldeblykseremonie by Samantha se graf in Matatiele in die Oos-Kaap hou. Weens die Covid-19-pandemie het hy egter besluit om dit eerder uit te stel.

“Nuwejaars sal vir ons nooit weer dieselfde wees nie ,” het hy hartseer gesê.

Die afgelope jaar was gevul met pynlike eerstes: eerste verjaarsdae, ’n Kersfees en Nuwejaar sonder Samantha, sê Basdew.

“Ek het die liefde van my lewe verloor, niks sal meer dieselfde wees nie. Ek dink nie ons sal as gesin ooit weer Nuwejaars vier nie.”

* Drie verdagtes wat in Julie 2020 in hegtenis geneem is by ’n huis in Kliprivier, kon nie met die skietvoorvalle verbind word nie. Met hul borgtogaansoek in die streekshof in Johannesburg het ao. Lufuno Masindi aangevoer die vuurwapens kan nie regstreeks met die skietvoorvalle verbind word nie.

Muhammed Mullah, Gift Mamabolo en Uyair Sasman het op aanklagte van ontvoering, afpersing, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en roof in die hof verskyn. Die beskuldigdes is vermoedelik deel van ’n ontvoeringsindikaat en hul bande met terreurgroepe soos Isis word nog ondersoek.

Meer oor:  Nuwejaar-Skietery  |  Sherwin Basdew  |  Melville  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.