Een verdagte is vasgetrek in verband met ’n plaashuis wat die afgelope naweek naby Fort Beaufort aan die brand gesteek en vernietig is.
Dié vyfslaapkamerhuis van Danie en Retha Malan, wat sowat 23 km buite die dorp geleë is, is Sondag in die vroeë oggendure in ’n brand verwoes. Inbrekers, wat glo vuurwapens uit die twee kluise in die plaashuis gebuit het, het vermoedelik die brand gestig.
Netwerk24 het vroeër berig dat die egpaar tydens die voorval in die Vrystaat gekuier het en slegs die klere aan hul lyf en dit wat hulle vir die naweek ingepak het, oor het.
Kapt. Khaya Tonjeni, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie is Sondag omstreeks 02:30 na die toneel ontbied, waar hulle die huis in vlamme aangetref het.
Die polisie se 72-uur-reaksieplan is in werking gestel en ’n taakspan is op die been gebring wat die gebied vir leidrade gefynkam het.
Tonjeni sê die polisie het later die dag ’n deurbraak gemaak en ’n 29-jarige man in Fort Beaufort in hegtenis geneem. Sonder om uit te wei, het Tonjeni by navraag slegs gesê dwingende bewyse het tot die man se inhegtenisneming gelei.
Die gesteelde vuurwapens word nog vermis.
Die beskuldigde sal Dinsdag in die landdroshof in Fort Beaufort op aanklagte van huisbraak en brandstigting verskyn.
Tonjeni sê verdere inhegtenisnemings word binnekort verwag.

Die huis op die plaas Smitskraal, wat sowat 23 km buite Fort Beaufort geleë is, nadat dit Sondagoggend in ’n brand verwoes is. Foto: Facebook, Elani Malan

Danie en Retha Malan. Foto: Facebook, Retha Malan