’n Tienjarige seun en ’n 26-jarige man is ernstig beseer tydens ’n bendeskietery laat Dinsdagmiddag in Manenberg, Kaapstad.
Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê volgens inligting het die voorvalle in Manenberglaan en Renosterweg plaasgevind en word sake van poging tot moord ondersoek.
“Die twee slagoffers is na ’n mediese gerief geneem. Die omstandighede rondom die skietery word ondersoek en die polisie volg alle leidrade op.

Kaapse wetstoepassers patrolleer bendegeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte. Foto: Ter illustrasie
Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die voortslepende voorvalle van bendeskietery skerp gekritiseer en gesê gemeenskappe raak keelvol.
“Ons kinders kan nie meer buite speel of loop nie. Dit maak nie saak of daar klein kinders in die spervuur is nie, bendelede skiet wild sonder om eers in ag te neem wie buite is.”
Fritz sê hulle sal kyk hoe die ontplooiing van Kaapse wetstoepassers as deel van die wetstoepassingsbevorderingsplan (Leap) verder ingespan kan word om Manenberg te stabiliseer.
Die LUR sê die polisie het ook nie die nodige hulpbronne om bendes vas te vat nie.
“Die invloed van bendegeweld in ons provinsie is ernstig en dit raak oud en jonk. Kinders is slagoffers van geweld en dit kan eenvoudig nie so voortgaan nie,” sê Fritz.