Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
10 keer geskiet, wonderwerk dat hy nog leef

Dat haar seun steeds lewe nadat hy tien keer in ’n rooftog raakgeskiet is, is “absoluut ’n wonderwerk”.

Jackie Brits sê haar seun, Calvin Bronkhorst (23), het Dinsdagaand in Riversdale, Meyerton, in die Vaaldriehoek reageer op ’n rooftog wat by ’n supermark aan die gang was.

“My man, Ockert, en Calvin is albei lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Dit het op die radio deurgekom dat rowers besig was om op die winkel toe te slaan, en daar is om hulp gevra,” sê Brits.

Calvin Bronkhorst is Dinsdagaand sowat tien keer geskiet toe hy op ‘n rooftog by ‘n supermark in Meyerton reageer het. Foto: Facebook

Kapt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder, sê sowat vyf gewapende rowers was besig om die winkel te beroof, toe lede van die GPF opgedaag het.

“Die rowers het op die GPF-lede geskiet toe hulle die winkel verlaat,” sê Makhubela.

Volgens Brits het die rowers Bronkhorst se vuurwapen by hom afgeneem en op hom geskiet.

“Hy is tien keer geskiet en hy het 19 skietwonde soos die koeëls hom deurboor het.”

Bronkhorst is na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton gehaas.

“Hy het vroegoggend (Woensdag) ’n operasie ondergaan om twee koeëls uit sy buik te verwyder,” sê Brits.

Hy is ook in sy been onder die knie getref.

“Volgens die dokter het hy ’n baie groot operasie nodig om sy been te red. Hulle gaan vir nou eers penne in die been sit om dit te stabiliseer, waarna hy nog operasies sal moet kry.”

Brits sê haar seun was Woensdagmiddag in ’n ernstige maar stabiele toestand en by sy volle bewussyn.

Calvin Bronkhorst en Wilmarie Pretorius, sy verloofde. Foto: Verskaf

Brits het hom aangeneem toe hy een jaar oud was.

“Ek het gedink my kind gaan dood. Die Here was baie goed vir ons. Dit is ’n absolute wonderwerk dat hy lewe en dat die koeëls nie belangrike organe getref het nie,” sê sy.

“Hy is ’n regte yster. Ek het al baie vir hom gesê hy gaan te veel in waar hy nie moet nie, maar as mense hulp nodig het, dan is hy daar.”

Calvin Bronkhorst ná die skietery in Meyerton. Foto: Verskaf

Sy sê sy is geskok oor die voorval. “Dit is verskriklik. Ek was eers verslae, en toe was ek kwaad. Iets moet gedoen word om die misdaad stop te sit.”

Bronkhorst en Wilmarie Pretorius (23), sy verloofde, was saam toe die skietery gebeur het.

“Sy is baie geskok. Sy het blykbaar in die kar weggekruip en hulle het gedreig om haar ook te skiet. Sy het gelukkig nie seergekry nie.”

Bronkhorst en Pretorius beplan om volgende jaar te trou.

Makhubela sê die polisie ondersoek klagte van sakeroof en poging tot moord. Niemand is nog aangekeer nie.

Meer oor:  Calvin Bronkhorst  |  Meyerton  |  Skietvoorval  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.