Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
10 mense in klopjagte in Kaapstad vasgetrek

Verskeie klopjagte Donderdagaand in Kaapstad het gelei tot die inhegtenisneming van tien verdagtes en daar is op verskeie vuurwapens, ammunisie en dwelms beslag gelê.

Kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die klopjagte is deur ’n geïntegreerde taakspan uitgevoer.

Van die vuurwapens en ammunisie wat in Pinelands by twee verdagtes gevind is, wat glo ’n winkel wou beroof. Foto: SAPD

In die eerste voorval was die taakspan se fokus op iemand wat vir moord en poging tot moord gesoek word.

Hulle was in Samora Machel in Philippi toe hulle die verdagte, in sy 20’s, vasgetrek het. Die taakspan het drie ongelisensieerde 9 mm-pistole en 1 205 Mandrax-pille ter waarde van R36 150 in sy besit gevind.

Volgens Traut staan die man tereg op twee aanklagte van moord en vier aanklagte van poging tot moord. Die polisie is nog op soek na sy medepligtiges.

In Nkandla in Philippi het ’n tweede taakspan ’n 31-jarige man in hegtenis geneem toe hulle twee ongelisensieerde 9 mm-pistole en 17 patrone in sy besit gevind het. Dié inhegtenisneming het tot verdere inhegtenisnemings van twee mans gelei, wat in die besit van ’n gesteelde koeëlvastebaadjie was. In Delft is daar ook ’n verlate vuurwapen gevind.

Die dwelms wat in Samora Machel, in Philippi, gevind is. Foto: SAPD

Traut sê in ’n ander voorval in Pinelands het polisielede, wat patrolliewerk gedoen het, twee verdagte mans gesien. Hulle was glo op pad om ’n rooftog by ’n sakeperseel uit te voer toe die polisie hulle gevang het. Hulle het by ’n winkel in Thornton gestaan en die winkel binnegegaan toe die polisie hulle voorgekeer en deursoek het. Die polisie het ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in hul besit gevind. Hulle is in hegtenis geneem.

Traut sê die onderskeie verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Athlone en in Kaapstad verskyn.

Intussen het die teenbende-eenheid ook ’n deurbraak gehad. Hulle het inligting ontvang van mense wat vuurwapens het en glo lede van plaaslike bendes in Mitchells Plain is.

Die fonds wat die polisie in Mitchells Plain op beslag gelê het. Foto: SAPD

Brig. Novella Potelwa, polisiewoordvoerder, sê vier verdagtes, ’n man (58), ’n vrou (49) en twee tieners, is in hegtenis geneem en aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, sowel as dwelmhandel.

Die klopjag is by ’n huis in Varingstraat uitgevoer, waar hulle drie onwettige vuurwapens, vier magasyne en ’n verskeidenheid van ammunisie gevind het. Hulle het ook ’n groot hoeveelheid tik gevind.

Potelwa sê volgens die voorlopige ondersoek blyk dit die vuurwapens is as gesteel in Claremont en in Beacon Bay in Oos-Londen aangemeld.

Die vier verdagtes sal Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Meer oor:  Andrè Traut  |  Kaapstad  |  Klopjag  |  Inhegtenisnemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.