Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
10 vas ná dramatiese kaping, rooftog

Tien vermeende transito-rowers is vasgetrek enkele ure nadat ’n geldwa Maandag naby Rustenburg in Noordwes beroof is.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die polisie het op vier voertuie, kontant, 12 vuurwapens en ammunisie beslag gelê.

Muridili sê lede van die polisie se afdeling vir openbare orde, die eenheid vir sigbare polisiëring, die operasionele bevelsentrum en die berede eenheid het aan die soektog na die rowers deelgeneem.

Die polisie in Mooinooi het Maandagoggend vinnig gereageer toe hulle in kennis gestel is van die transitorooftog wat op die R556-pad na Sun City tussen die Keya Rona Mall en Majakeng aan die gang is.

Die erg beskadigde geldwa en Audi op die pad na Sun City in Noordwes waar transito-rowers Maandagoggend toegeslaan het. Foto: ER24

Volgens Muridili het ’n motor die geldwa by die Majakeng-brug van die pad af gedruk. Die rowers het die geldwa oopgedwing en die geld geroof. Die bestuurder van ’n voertuig wat die geldwa vergesel het en die rowers het op mekaar geskiet. Niemand is getref nie.

Die rowers het daarna nog ’n voertuig in die omgewing gekaap.

Werner Vermaak, woordvoerder van die ER24-nooddienste wat later op die toneel was, sê ’n negejarige seun en sy pa wat in die gekaapte voertuig was, was erg geskok. Hulle is na ’n hospitaal geneem. Twee veiligheidswagte wat lig beseer is, is ook na die hospitaal geneem.

Die geldwa en ’n Audi op die toneel is erg beskadig, het Vermaak gesê. Dis nie duidelik of die rowers in die Audi toegeslaan het en of dit die gekaapte voertuig is nie.

Muridili sê die rowers, wat ook twee wapens van die veiligheidswagte geroof het, het ná die rooftog en kaping in verskeie voertuie met ’n onbekende bedrag kontant gevlug.

Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Brits op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, kaping, die besit van plofstof, die besit van vermoedelik gesteelde geld en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie verskyn.

Meer oor:  Rustenburg  |  Misdaad  |  Transitorooftog  |  Kaping  |  Vragmotor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.