Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
10 vas oor voertuigbedrog in Oos-Kaap

Tien verdagtes, waaronder twee polisiemanne, staatsamptenare en buitelanders was, is in die Oos-Kaap vasgetrek weens voertuigbedrog.

Die tien mans en vroue tussen die ouderdom van 32 en 65 jaar, is Woensdag douvoordag in die omgewing van King William’s Town en Komga vasgetrek deur ’n geïntegreede taakspan wat bestaan het uit lede van die teenkorrupsie-eenheid, die spesiale ondersoekeenheid, die voertuigmisdaadondersoekeenheid en die Padverkeersbestuurskorporasie.

Brig. Thembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê die twee polisiebeamptes wat vasgetrek is, was onderskeidelik van die Kokstad- en Steve Vukile Tshwete-polisiekantore.

Kinana sê die owerhede het ’n wenk ontvang dat ingevoerde motors glo onwettig die land inkom en op die e-Natis-stelsel geregistreer word.

Volgens Kinana het die buitelanders glo die onwettige voertuie na die land gebring en met behulp van die polisielede en amptenare van die departement van vervoer geregistreer as heropgeboude voertuie.

Kinana sê die Suid-Afrikaanse amptenare het na bewering hul magte misbruik deur vals dokumente by die Komga-registrasie-owerheid in die e-Natis-stelsel in te voer.

“Die dokumente sou dan na die hulpkantoor van die provinsiale departement van vervoer gestuur word vir goedkeuring op die e-Natis-stelsel,” het Kinana gesê.

Volgens hom het die buitelanders glo ook voorgegee dat hulle die voertuie opgebou het en vals klaringsertifikate van die polisie bekom, asook vals registrasie-dokumente van die department van vervoer se e-Natis-stelsel.

“Hulle dit gedoen met behulp van ’n korrupte verhouding met staatsamptenare.”

Volgens die Oos-Kaapse polisie word die verdagtes deur ’n reeks aanklagte in die gesig gestaar, waaronder bedrog en geldwassery.

Die verdagtes bly in aanhouding en verskyn Vrydag in die landdroshof in Komga.

Die waarnemende provinsiale kommissaris, genl.maj. A.P. Swart, het die taakspan geloof. “Ons wil ons toewyding om bedrog en korrupsie in die provinsie uit te roei, benadruk. Ek is veral tevrede met die ondersoek waarin selfs ons eie lede vasgevat is; lede wat ’n vals beeld van ons visie en missie gegee het,” het Swart gesê.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Buitelanders  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.