Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘100 binne jaar hiér ontvoer’

Nóg ’n inwoner van Fordsburg in Johannesburg is Dinsdag ontvoer en dieselfde vermeende ekstremistiese Moslem-sindikaat wat by menseroof betrokke is, waarvan sommige lede verlede week in Kliprivier in hegtenis geneem is, word ook van dié ontvoering verdink.

Volgens een polisiebron is sowat 100 mense die afgelope jaar in Johannesburg ontvoer. In al die gevalle word lospryse geëis – volgens Rapport se bronne tussen R3 miljoen en R5 miljoen. In die meeste gevalle word ryk, buitelandse sakemanne geteiken. Hulle is dikwels maklike slagoffers omdat hulle onwettig in die land is en hul families dikwels sal betaal eerder as om die owerhede te verwittig.

Die slagoffer (regs) en een van sy ontvoerders by die wegneemetewinkel.
Nog ’n man sluit by hulle aan.
Hy haal ’n vuurwapen uit.
Die ontvoerders help hul slagoffer orent en stap agter hom aan by die winkel uit.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, wou nie die omvang van hierdie probleem ontken of bevestig nie. Die misdaadstatistieke wat Vrydag bekend gemaak is, het nie voorvalle van menseroof gewys nie.

“Dit is nie ’n kategorie waarop ons gevra is om te rapporteer nie,” het Naidoo gesê.

Rapport se polisiebron sê die oorgrote meerderheid van die ontvoerings – tot 70% – is in die Fordsburg-omgewing. Hy sê met so ’n hoë voorkoms behoort ’n spesiale ondersoekeenheid gestig te word om dié tipe misdaad te ondersoek omdat dit gespesialiseerde ondersoekvaardighede verg.

’n Offisier in die Valke sê hulle weet van die situasie. “Ek het nie die presiese syfers nie, maar daar is ’n ernstige probleem. Hulle teiken eienaars van ondernemings nadat hulle toemaak vir die dag.”

Hy sê daar was al vergaderings tussen die polisie en die Valke oor die vlaag ontvoerings.

Hulle het ’n losprys van R3,5 miljoen geëis.

Rapport het die afgelope week met ’n paar inwoners van Fordsburg gepraat wat sê hulle is bewus van die probleem en lewe in vrees.

“Ek was al getuie van een so ’n ontvoering,” het ’n 31-jarige reisagent vertel. “Ek het verlede September gesien hoe ’n man op straat met AK-47’s ontvoer word. ’n Maand later was ek minute ná nog ’n voorval op die toneel naby die Newtown-moskee. ’n Man van Somalië is daar ontvoer.”

’n Veiligheidskonsultant van Fordsburg sê hy is bewus van sowat 20 gevalle die afgelope jaar.

Rapport het die afgelope week kringtelevisiemateriaal bekom wat wys hoe ’n man Dinsdag by sy pa se wegneemrestaurant in Fordsburg ontvoer word.

In die video sit hy saam met ’n onbekende man aan tafel.

’n Polisiebron sê dié onbekende man het gevra om die bestuurder (die seun van die eienaar) te sien.

Daarna kom ’n gesette, gemaskerde man, geklee in ’n oranje hemp en rooi mus, by die winkel in. Hy loop na die twee mans se tafel. Die onbekende man wat by die tafel sit, hou die kant van sy gesig deurentyd toe asof hy vir die kringtelevisiekamera wegkruip.

As die gesette man by die tafel kom, haal hy ’n vuurwapen – dit lyk na ’n 9 mm-pistool – uit, wys dit vir die slagoffer, wat sigbaar skrik, en druk dit in sy linkerbroeksak. Die mans help die slagoffer orent en stap met hom by die winkel uit.

Die Isis-vlag wat op die kleinhoewe gekry is. Foto: eNCA

“Die ontvoerders was reeds in aanraking met die slagoffer se familie. Hulle het ’n losprys van R3,5 miljoen geëis,” sê die bron.

Rapport het verlede Sondag berig vyf mense is aangekeer en verskeie vuurwapens – onder meer twee AK47-aanvalsgewere, ’n Uzzi-handkarabyn en twee pomp­aksie-haelgewere – gevind in ’n klopjag op ’n kleinhoewe in Kliprivier, suid van Johannesburg. Die wapens was in die tuin begrawe.

Die klopjag volg op ’n ondersoek na die ontvoering van ’n 72-jarige man van Fordsburg op 2 Julie. Die slagoffer is kort daarna ongedeerd in Kensington in die suidooste van die stad gevind. Sy ontvoerders het ’n losprys van R3 miljoen geëis, maar sy familie het dit nie betaal nie.

In die klopjag is ook beslag gelê op ’n nommerplaat met dieselfde nommer as dié van die BMW X5 wat op Oujaarsaand in drie verbyry-skieterye by Johannesburgse kuierplekke opgemerk is. Twee twee mense is dood en 19 gewond. Dit was egter nie al onheilspellende bewysstuk wat op dié toneel gevind is nie. Speurders het ook beslag gelê op ’n Isis-vlag wat op bande met ’n groter ekstremistiese groep dui.

“Ons vermoed dat die groep maar net ’n sel is van ’n groter groep en dat hulle almal in afgeleë plaashuise en op kleinhoewes skuil.”

Drie van die vyf beskuldigdes – Ricardo Uzair Sasman, Hassen Raees Muhammed en Lebogang Gift Mamabolo – het Maandag in die landdroshof in Johannesburg verskyn. Hulle word onder meer aangekla van menseroof. Die saak is tot môre uitgestel. Nog twee beskuldiges het in die landdroshof in Palm Ridge verskyn. Hulle mag nog nie geïdentifiseer word nie.

Naidoo wou nie uitwei oor die beweerde verband tussen die Kliprivier-inhegtenisnemings en die Oujaarsaand-aanvalle nie. “Die verdagtes is aangekla van menseroof en/of die besit van ongelisensieerde vuurwapens, nie van enige klagte wat betrekking het op daardie aanvalle nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Vish Naidoo  |  Fordsburg  |  Ontvoering  |  Isis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.