Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
13-jarige met broek af by kind

’n Seun (13) is glo met sy broek af in ’n geslote badkamer van ’n Wimpy-restaurant met ’n sesjarige meisie betrap.

’n Skermgreep uit die video waarin die seun gekonfronteer word.

Die ma van die meisie konfronteer die veel groter seun in ’n ontstellende video wat wyd op sosiale media versprei word. Uit die video blyk dit die deur was gesluit en die seun sê op die video die meisie het hom gevra om haar te “soen”.

Ontstoke sosiale media-gebruikers het dadelik ’n parallel getrek met die Dros-voorval verlede jaar waar Nicholas Ninow glo ’n jong meisie in die restauranttoilet van dié gesinsrestaurant verkrag het.

Brig. Sabata Mokgwabone, ’n Noordwes-polisiewoordvoerder, sê die Wimpy by Mooinooi in dié provinsie het Woensdag, verkiesingsdag, die plaaslike polisie gebel.

“Beamptes is na die Wimpy ontbied om dit te ondersoek,” sê hy.

Uit die video blyk dit die deur was gesluit.

Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings het ’n ondersoek begin.

Aangesien die beweerde oortreder ook minderjarig is, is niemand in hegtenis geneem nie.

Lt.kol. Amanda Funani, nog 'n polisiewoordvoerder, het gister aan Rapport gesê polisiebeamptes sal môre die seun en meisie gaan ondervra.

“Die polisie stuur more 'n vroulike beampte om met die dogtertjie te gesels. Die ondersoekbeampte is 'n man en sy was huiwerig om met hom te praat. Daarom sal 'n vrou dit nou doen.

“In dié stadium ondersoek ons die moontlikheid van 'n oortreding van 'n seksuele aard. Niemand is nog in hegtenis geneem of in aanhouding nie.”

Die video van twee en 'n half minute lank wys hoe 'n vrou die seun aan sy arm gryp en hom vashou.

In die video ontken die kaalvoetseun in ’n blou broek en ’n baadjie dat hy iets verkeerd gedoen het.

“Sy het my gevra om dit te doen,” sê die seun in die video.

“Om wat te doen?” wil die vrou by hom weet. “Om haar te soen,” sê die seun huilend.

Die vrou beveel dan die seun om sy ma te bel. “Ek ken nie haar nommer nie,” sê die seun.

Iemand anders, vermoedelik die meisie se ma, sê dan hulle moet eerder die polisie bel.

“Jy moet net vir ons die waarheid vertel,” sê die vrou dan vir die seun.

“Dis al. Sy is net 'n kind. Sy kan dit (om hom te soen) nie van jou vra nie.”

Die meisie staan sprakeloos langs hulle in 'n pienk sweetpak met Barbie-karakters daarop. Sy hou haar tekkies in haar hande vas.

Wanneer twee vroue vir die dogtertjie vra wat gebeur het, fluister sy sag vir hulle en die een vrou herhaal: “Hy het op jou geslaap?”

Die ma is geskok en skreeu: “O my God!”

Die seun skreeu dan weer hy het dit nie gedoen nie. Hy hou vol dit was die dogtertjie wat hom vir 'n soen gevra het. Die seun word dan gevra hoekom hy nie die dogtertjie na haar ma geneem het en haar vertel het dat haar kind hom vra om dinge met hom te doen nie.

Die ma is ontsteld.

“Ek kan nie my kind ontklee in die toilet saam met jou kry nie. En nogal in die manstoilet,” sê sy vir die seun.

“Toe ek aan die deur klop, het my dogter hallo gesê. Dié een (die seun) sê ek is besig in die badkamer. Hy wil nie die deur oopmaak nie. Wat was jy besig om te doen?” vra sy hom.

“Maar sy wou gehad het ek moet . . .” mompel die seun.

“Wat doen jy met 'n sesjarige?” vra die ma kwaai. “Sy wou my soen,” sê hy. Hy probeer verduidelik dat hy op pad toilet toe was toe die dogtertjie hom nader.

“So, het sy jou binne-in die toilet getrek?” vra die ma.

Selfs nadat die ma vir hom sê die kameras sal verduidelik of sy weergawe waar is, dring die seun aan op sy weergawe en wys na 'n ander seun en sê dat hy sy storie kan bevestig.

Wimpy het Saterdag getwiet hulle is bewus van die voorval en neem dit “uiters ernstig” op.

Meer oor:  Seksuele Molestering  |  Wimpy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.