Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
13-jarige steek skoolseun (15) dood

Jade Davis (15) van Algoapark, Port Elizabeth, het Maandag in sy skooluniform in ’n oop stuk veld sy laaste asem uitgeblaas nadat hy deur ’n 13-jarige seun doodgesteek is.

Jade se getraumatiseerde familie en leerlinge van die Hoërskool Otto du Plessis waar hy in gr. 9 was, het Dinsdag nog gesukkel om tot verhaal te kom oor sy moord.

Jade Davis (15) is in Algoapark doodgesteek. Foto: Verskaf

Hy is minder as ’n kilometer van sy huis af drie keer met ’n mes in sy nek, rug en naby sy hart gesteek.

Paramedici het tevergeefs probeer om Jade by te bring. Hy is op die toneel dood verklaar.

Terwyl Jade se familie hom Dinsdag by die polisie se lykshuis moes gaan uitken, het sy vermeende moordenaar in die hof vir jeugmisdadigers in Port Elizabeth verskyn.

Dié seun se naam mag nie genoem word nie omdat hy minderjarig is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Jade was deel van ’n groep skoolseuns wat om 16:00 in Dykeweg in Algoapark gestap het.

Die 13-jarige seun het van ’n winkel se rigting af aangestap gekom. Luidens die polisie is dit nog nie seker presies wat gebeur het nie, maar Jade se groepie en die 13-jarige seun het glo haaks geraak, waarna die seun vir Jade gesteek het.

Jade se tante, Nicole van Wyk, sê een van sy skoolmaats het Maandagmiddag aan die deur kom klop en gesê hy is gesteek.

Sy het haar na die toneel gehaas en Jade daar sien lê. “Hy het nog gelewe. Hy het ’n pols gehad, maar het geroggel. Ek het histeries geskree na iemand om ’n ambulans te ontbied.

“Ek het sy naam geroep en vir hom gesê om wakker te bly. Hy het my in my oë gekyk terwyl die trane uit syne stroom. Hierna het hy sy laaste asem uitgeblaas,” het ’n huilende Van Wyk vertel.

Patricia van Wyk, Jade se ouma wat hom al vandat hy ’n baba is grootmaak, sê sy het hom Maandag soos oudergewoonte om 06:30 wakker gemaak vir skool.

Hy was ’n stil en gehoorsame seun wat deelgeneem het aan skoolaktiwiteite. Hy was lid van die o.15B-rugbyspan.
Thinus van Eeden, skoolhoof

“Ek sou nooit kon raai dat hy later in die dag op so ’n wrede manier van ons weggeruk sou word nie. My hart is stukkend,” sê Patricia.

Die Hoërskool Otto du Plessis se skoolhoof, Thinus van Eeden, het Dinsdag reëlings getref sodat sommige van die leerlinge berading ontvang.

Van Eeden het Dinsdagoggend die nuus oor Jade se dood op ’n saalbyeenkoms aan die leerlinge oorgedra.

“Hy was ’n stil en gehoorsame seun wat deelgeneem het aan skoolaktiwiteite. Hy was lid van die o.15B-rugbyspan.

“Ons is almal baie hartseer oor sy dood.”

Jade se familie het gerugte dat hy die 13-jarige seun wou beroof, as snert afgemaak. Bure het sy lof besing en hom beskryf as ’n voorbeeldige seun.

Daar is nog geen begrafnisreëlings getref nie.

Meer oor:  Hoërskool Otto Du Plessis  |  Jade Davis  |  Port Elizabeth  |  Algoapark  |  Messteek  |  Dood  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.