Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
13-jarige vas ná moord op leerling in Mondeor

Die Gautengse polisie het ’n 13-jarige seun in hegtenis geneem weens die moord op ’n hoërskoolleerling Woensdagoggend in die suide van Johannesburg en nog twee leerlinge word gesoek.

Kulani Mathebula (19), ’n gr. 11-leerling aan Mondeor High School, is omstreeks 07:30 op pad skool toe vermoor. Hy is blykbaar drie keer in die bors gesteek.

Vroeër is berig Dumi Chauke (36) was ontroosbaar toe forensiese patoloë haar enigste kind se lyk van die misdaadtoneel in Fernhurststraat in Mondeor verwyder het.

Patoloë het sy skoolskoene, tas en baadjie aan sy familie oorhandig nadat dit ure lank langs sy bedekte lyk gelê het.

Van die ouers wat op die toneel was, het gesê Mathebula se selfoon is gesteel.

Volgens kapt. Kay Makhubele, ’n polisiewoordvoerder, het drie skoolseuns Mathebula aangeval en gesteek.

Daar is beeldmateriaal van ’n kringtelevisiekamera wat wys hoe die drie leerlinge van ander skole hom voor die aanval agtervolg. Volgens Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, is beeldmateriaal van inwoners in die omgewing gekry.

“ ’n Span speurders het dié inligting opgevolg wat hulle na ’n nabygeleë skool in Mondeor gelei het. Een van die verdagtes, ’n 13-jarige, gaan daar skool,” sê Makhubele.

Lt.genl. Elias Mawela, polisiekommissaris vir Gauteng, het die inhegtenisneming van die verdagte in minder as 24 uur verwelkom.

Hy het die moord op Mathebula veroordeel en die gemeenskap aangemoedig om saam met die polisie te werk om die ander verdagtes vas te trek.

Die ander twee verdagtes is vermoedelik ook skoolkinders en die polisie doen ’n beroep op die seuns om hulself oor te gee.

Lesufi was op die moordtoneel, wat ’n ent van die skool af is. Hy het ook die skool besoek en sy meegevoel betuig met die leerlinge en onderwysers.

Die psigososiale span het reeds met berading by die skool begin en sal steeds die nodige ondersteuning aan die skoolgemeenskap verskaf.

Meer oor:  Mondeor  |  Johannesburg  |  Leerling  |  Skote
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.