
’n Aantal mans wat vermoedelik by taxigeweld in Mbekweni, Wellington, betrokke was, is Woensdag in hegtenis geneem. Foto: SAPD
Polisiebeamptes verbonde aan die Wynland-polisiegroepering in die Boland het Woensdag 15 mense in hegtenis geneem wat vermoedelik vroeër die dag by die taxigeweld in Mbekweni, Wellington, betrokke was.
Die publiek het die polisie na die Mbekweni-spoorwegstasie ontbied kort nadat verskeie skietvoorvalle daar voorgekom het.
Die polisie het verskeie patroondoppies van ’n 9 mm-pistool en ’n R5-geweer daar opgetel.
Hulle het ook afgekom op ’n 26-jarige vrou wat gewond is, en die lyk van ’n 40-jarige taxi-eienaar in ’n hut aangetref.
Volgens kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het verskeie taxi’s van die toneel af weggejaag, waarna dit in die Paarl naby die taxistaanplek op die hoek van New- en Lady Grey-straat voorgekeer is.
Dertien mans is in hegtenis geneem.

’n Aantal mans wat vermoedelik by taxigeweld in Mbekweni, Wellington, betrokke was, is Woensdag in hegtenis geneem. Foto: SAPD
Van Wyk sê die polisie het 13 mense (almal glo mans van Khayelitsha wat tussen 24 en 48 jaar oud is) in hegtenis geneem. Daar is ook op ’n 9 mm-pistool en ammunisie beslag gelê.
Volgens hom was een van die mans in die taxi’s gewond en hy is na ’n nabygeleë hospitaal geneem, waar hy onder polisiebewaking is.
’n Man (49) van Mbekweni is ook in hegtenis geneem. ’n Norinco 9 mm-pistool met ’n magasyn met nege patrone is by hom gevind. ’n 62-jarige taxibestuurder van Khayelitsha is ook in Mbekweni in hegtenis geneem. Ook by hom is ’n 9 mm-pistool en patrone vir ’n R5-geweer gekry.
Van Wyk sê twee polisiebeamptes wat op pad na die toneel in ’n ongeluk was, het geringe beserings opgedoen en is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.
Die mans sal in die landdroshof in Paarl op aanklagte van moord, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie verskyn, sê van Wyk.