Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het die jongste aanval op lede van die provinsiale nooddienste (EMS) veroordeel nadat ’n ambulans Woensdagaand in Baden Powellrylaan in Khayelitsha met klippe bestook is.
Deanna Bessick, EMS-woordvoerder, sê paramedici was op pad om ’n pasiënt in die Helderberg-hospitaal te gaan haal en na die Tygerberg-hospitaal te vervoer toe die aanval omstreeks 20:20 plaasvind.
“Dit is die 16de aanval op EMS-personeel in die provinsie sedert die begin van die jaar. Gelukkig is niemand beseer nie. Die voorval is by die polisie aangemeld.”
Bessick sê die departement is baie bekommerd oor die frekwensie van aanvalle, met voorvalle wat reeds meer as dubbel is in vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Dr. Shaheem de Vries, direkteur van EMS, sê die versekering van ’n veilige werkomgewing vir hul personeel bly ’n hoë prioriteit.
“Ons is voortdurend besig om die risiko’s te monitor vir die voortgesette voorsiening van nooddienste. Ons ondersoek dus altyd nuwe maniere om te verseker dat ons personeel elke dag veilig kan terugkeer huis toe,” sê De Vries.
Volgens die departement plaas die Covid-19-pandemie verdere druk op hulle.
“Dit is ’n tydperk waarin nood- mediese dienste, veral op gemeenskapsvlak, broodnodig is. Die Wes-Kaapse regering doen ’n beroep op die publiek om nie ambulansdienste aan te val nie.”
Mense met inligting oor die aanvalle word versoek om hulle naaste polisiekantoor te kontak.