Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
17 vragmotors brand een ná die ander
vragmotor petrolbom bernard groenewald
Die vragmotor in ligte laaie nadat 'n petrolbom deur die kajuitvenster gegooi is.

In wat lyk na ’n georkestreerde reeks aanvalle op vragmotors op paaie is talle voorvalle Sondag in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes- en Oos-Kaap en Mpumalanga aangemeld.

Minstens vier vragmotors is vroegoggend in KwaZulu-Natal aangeval, veral tussen Durban en Pietermaritzburg, maar geen beserings is aangemeld nie, het die polisie gesê.

Aanvalle is aangemeld by onder meer Cato Ridge, die R103, Dalton, Bayhead, Mountain Rise, Mooirivier en die N3, waar twee vragmotors deur onbekende aanvallers met petrolbomme bestook is. Dié hoofweg moes vir minstens ses uur lank gesluit word, berig eNCA.

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het motoriste Sondag gewaarsku oor “ontwrigtende betogings en voorvalle van misdaad en pogings om die verkeersvloei te ontwrig” op dié pad. Con Roux, kommersiële bestuurder, sê in ’n verklaring padgebruikers word aangeraai om eerder langafstandreise in die dag aan te pak.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het aan eNCA gesê 17 vragmotors is Sondag aan die brand gesteek.

Mbalula het Sondag na Durban gereis vir ’n vergadering van ’n interministeriële komitee oor die aanvalle.

Bernard Groenewald

“Die minister sal uiteraard oor die situasie ingelig word sodat die regering daadwerklike stappe kan doen om die aanvalle op vragmotorbestuurders en hul eiendom te stuit,” het Collen Msibi, woordvoerder van die departement van vervoer, gesê.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie se operasies in die provinsie word verskerp om hul sigbaarheid langs die paaie te verbeter.

Vragmotors is vroeër vanjaar ook in die gebied aan die brand gesteek weens ontevredenheid oor die indiensneming van buitelandse bestuurders.

Gavin Kelly, woordvoerder van die Padvragvereniging (RFA), wou nie gerugte bevestig dat daar gereeld gevegte tussen plaaslike en buitelandse vragmotorbestuurders uitbreek nie.

“Al wat ek weet is dat die polisiëring in ons land nie na wens is nie,” het Kelly gesê.

Sondagoggend is foto’s op sosiale media geplaas van ’n vragmotor wat op die R59 in Vereeniging gebrand het. Dit was glo van Sasolburg af op pad.

Op die N2 naby Port Elizabeth het betogers glo bestuurders se vragmotorsleutels afgeneem.

Op die N11 by Ermelo is vragmotors glo verhoed om verder te ry en is sleutels ook afgeneem.

By Touwsrivier in die Wes-Kaap is ’n Kaapse bestuurder en sy vragmotor Sondagoggend op die N1 met petrolbomme bestook.

Bernard Groenewald (50) van Huddlestone Transport is met erge brandwonde en ’n gebreekte enkel na die Mediclinic Worcester geneem.

Hy is in ’n kritieke toestand.

“Hy lyk regtig nie goed nie, maar ons glo dat hy dit gaan maak,” het Ciska, sy vrou, gesê.

Groenewald en sy swaer het elk in ’n vragmotor gery en van die pad afgetrek om te rus. ’n Petrolbom is deur sy vragmotor se ruit gegooi terwyl hy glo geslaap het en hy is met nog ’n petrolbom bestook nadat hy uitgespring en agternagesit is.

Sy swaer se vragmotor het ook brandskade opgedoen. Verdagte gedrag of voorvalle kan aan die N3TC se blitslyn by 0800 63 4357 aangemeld word.

  • Mense met inligting oor die aanvalle en besonderhede van die aanvallers kan Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.
Meer oor:  Vragmotors  |  Aanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.