Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
18 sake glo al teen Pta se ‘breker’ Leibrandt geopen

Nog mense kom na vore wat beweer hulle het ook onder Francois Leibrandt, die jong man wat glo ’n polisiekonstabel aangerand het, se vuiste deurgeloop.

Bloed in die parkeerterrein buite ’n kuierplek in Magalieskruin, Pretoria, waar konst. Leon Mentz en sy broer aangeval is.

Hoewel hulle steeds bang is vir hom, sê die klaers dat hulle ná die aanval op konst. Leon Mentz nie meer kan stilbly nie.

“Die mannetjie moet gestop word. Wat as hy volgende keer iemand doodslaan?” het verskeie gesê.

Leibrandt (24), sy meisie, Cindy Esterhuizen (26), en ’n vriend, Jacques van der Merwe (32), is in aanhouding nadat Mentz en sy broer op 22 Junie by ’n kuierplek in Magalieskruin in die noorde van Pretoria aangeval is.

Al drie het Vrydag in verband met die voorval op aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

Mentz het drie operasies ondergaan en ’n oogspesialis gaan sien nadat hy na bewering nie net met vuiste bygedam is nie, maar glo ook met ’n bottel oor die kop geslaan en met ’n gebreekte drinkglas in die gesig gegooi is.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Leibrandt, wat glo “spog” dat niemand iets aan hom kan doen nie, nog sake teen hom het wat tot 2016 terugdateer.

Netwerk24 kon minstens 11 saaknommers opspoor wat wissel van aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer tot poging tot moord.

Dit is nie duidelik wat die status van al die verskillende sake is nie.

Dit is by verskillende polisiestasies in Pretoria aanhangig gemaak.

Konst. Leon Mentz kort nadat hy glo deur Francois Leibrandt, sy meisie en ’n vriend aangerand is.

18 moontlike sake

Ná berigte oor die aanval op Mentz het verskeie mense ook die Sinoville-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gekontak oor Leibrandt.

“Ons sit met ’n lys van 18 moontlike sake teen hom. Daar was 11 sake waarvan ons geweet het, maar ná die Mentz-aanval het nog sewe mense na vore gekom.

“Van hulle sê hulle hét destyds aanklagte by die polisie aanhangig gemaak, maar nooit saaknommers gekry nie. Ons gaan met die polisie vergader en notas vergelyk om te bevestig watter van dié klagtes eg is en te verseker dat die verskillende polisiestasies in Pretoria bewus is van die ander sake,” sê Charles Kemp, voorsitter van die GPF.

Die GPF wil wanneer Leibrandt en sy medebeskuldigdes weer in die hof verskyn weens die Mentz-aanval, vra dat die lys sake deur die staat voorgelê word as deel van die gemeenskap se versoek dat Leibrandt nie weer op borgtog vrygelaat moet word nie.

“Dit lyk asof die beskuldigde net voortgaan met sy beweerde optrede, selfs al is hy op borgtog of op waarskuwing vrygelaat.

“Die gemeenskap voel nie meer veilig om iewers heen te gaan nie, want die aanvalle gebeur waar ons, of jou eie kinders, kuier,” sê Kemp.

Leenete Kearney, wie se man, Donald, glo ook in Julie 2018 uit die bloute deur Leibrandt en vier ander aangeval is, sê hulle het gerugte gehoor dat dossiere teen die beskuldigde “wegraak” of sake “verdwyn”.

Daarom het hulle destyds vir AfriForum genader, sowel as ’n prokureur, om ’n oog oor hul saak teen Leibrandt te help hou.

Die verhoor in die Kearney-saak kom weer in Augustus in die hof voor.

Dié foto is glo in 2018 geneem nadat Francois Leibrandt en twee vriende na nog ’n beweerde aanranding in hegtenis geneem is. Die twee vriende se identiteit, en of hulle wel later aangekla is, is in die stadium onbekend.

Dreigemente

Ander slagoffers sê hulle vind dit kommerwekkend dat hy ná elke nuwe aanklag vrygelaat word.

’n Vrou wat glo ook in ’n kuierplek onder Leibrandt en van sy vriende deurgeloop het, sê: “Party mense gaan uit om rustig ietsie te drink en te kuier. Leibrandt en sy vriende gaan uit met die doel om iemand te donner, om vieslik te baklei”.

Sy het nie ’n klag by die polisie ingedien nie omdat Leibrandt glo gedreig het hy weet waar sy werk.

Hein Taylor sê hy het ook verlede jaar “probleme” met Leibrandt gehad, en noem ’n lys van plekke in Pretoria waar die beskuldigde glo weens sy beweerde gedrag verban is.

“Ek was in Oktober by ’n kuierplek in Hercules. Leibrandt het my gevra wat kyk ek. Ek het hom geïgnoreer.

“Hy het gegil dat hy ’n Leibrandt is en my sal bliksem. Soos altyd was hy saam met ander ouens.

“Toe slaan hy my agter die kop. Ek doen kickboxing, so ek het hom self uitsorteer. Dit was toe nie nodig om ’n saak teen hom te gaan maak nie,” sê Taylor.

* Leibrandt se ma wou nie kommentaar lewer nie. Hy, Esterhuizen en Van der Merwe verskyn later die maand weer in die hof weens die aanranding op Mentz en sy broer.

Meer oor:  Konst. Leon Mentz  |  Francois Leibrandt  |  Pretoria  |  Aangerand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.