Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
19 vas ná chaos en plundery in Bloem

Groot verwoesting is Maandagaand gesaai toe winkels van buitelanders in die townships rondom Bloemfontein geplunder en in sommige gevalle ook afgebrand is.

Van die paaie in en om die stad was Dinsdag ook nog gesluit. Die situasie is steeds baie gespanne en daar is ’n groot polisieteenwoordigheid op straat.

Winkels in veral die townships Namibië, Freedom Square, Batho, asook in die Fases, het deurgeloop.

Meer as 100 buitelanders se winkels is glo geplunder in Bloemfontein, soos wat hier gesien kan word in die winkel van Masfin Dasleny. Foto: Mlungisi Louw

Masfin Dasleny, ’n buitelander wat in Batho woon, sê meer as 100 winkels van buitelanders is geplunder. Van hulle is ook afgebrand.

In dié stadium is 19 mense reeds in hegtenis geneem op aanklagte wat wissel van moord, openbare oproer, saakbeskadiging en ontvoering. Almal sal binnekort in die landdroshof in die stad verskyn.

Die moordklag volg nadat ’n tienerseun Maandag tydens die oproer raak geskiet is. ’n Veiligheidswag is in hegtenis geneem ná die voorval, het brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, gesê.

In dié stadium weet hulle van minstens 13 klagte wat ingedien is oor winkels, maar daar is nog op pad.

Dinsdagoggend was dit stiller nadat polisielede die gebied deur die nag gepatrolleer het, maar busse en taxi’s kon steeds nie ry nie weens die paaie wat steeds gesluit is.

Nog ’n foto wat wys hoe Masfin Dasleny se winkel in Batho buite Bloemfontein geplunder is. Foto: Mlungisi Louw

Oor gerugte dat die oproeriges gaan opruk na skole in Bloemfonteinse woonbuurte, het Makhele gesê hulle weet niks daarvan nie.

“Die mense het nog glad nie na die woonbuurte in die stad gekom nie. Ons weet ook nie van ’n plan dat hulle Dinsdag na Dewetsdorp en Soutpan (wat deel van die Mangaung-metro is) wil beweeg, soos op TV gesê is, nie."

In ’n video op Twitter kan ’n mens egter sien dat daar Dinsdagoggend reeds mense in Dewetsdorp se strate ingevaar het om te betoog as deel van die #MangaungshutDown-veldtog.

Cheréne Pienaar het berig dat dokters vroegoggend in ’n konvooi na die Pelonomi-hospitaal gebring is, terwyl oorblyfsels van Maandag se betoging nog oral gelê het in Dr. Belcher-weg, wat voor die hospitaal verbyloop.

Die chaos in die winkel van Masfin Dasleny, ’n buitelander wat in Batho, buite Bloemfontein, sake doen. Foto: Mlungisi Louw

Joanne Ranyane, woordvoerder van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein, sê daar is net ’n klompie verpleegkundiges aan diens en hulle kon nie met die inentingsprogram voortgaan nie omdat daardie personeel nou in die sale moet help.

“Ons nagpersoneel kon ook nie huis toe gaan nie omdat daar nie vir hulle vervoer was nie.”

Die protesaksie vind plaas onder die vaandel van ’n groep wat bekend staan as die Mangaung Community Concern. Hulle wil glo die metro “terugvat” omdat die dienslewering volgens hulle uiters swak is onder die huidige ANC-bestuur.

Intussen sê Motlatsi Mokgatla, een van die leiers van die Mangaung Community Concern, hulle sal die strate in Bloemfontein gesluit hou totdat die metro met hulle vergader om te praat oor die swak dienslewering en ongemagtigde uitgawes, wat van alle metro’s die hoogste in die land is, en onreëlmatige uitgawes wat op twee na die hoogste in die land is, volgens verslae van die ouditeur-generaal (OG) wat in hul besit is.

“Die mense wat tans die openbare beursie by die metro dra, konsulteer nie met gemeenskappe nie, wyl die paaie oortrek is met slaggate en rou riool wat in strate afloop. Ons het ’n onbekwame raad,” sê hy.

Hy sê dit is waar dat gemeenskappe ook Dinsdag in Soutpan en Dewetsdorp hul misnoeë oor die swak munisipaliteit met betogings gaan wys.

• Intussen sê Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het ingegryp en sou ’n vergadering met al die betrokkenes hou, waarna ’n nuusverklaring uitgereik sal word.

Meer oor:  Qondile Khedama  |  Bloemfontein  |  Plundery  |  Verwoesting  |  Chaos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.