Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 amptenare moet R30 m. hoes oor PPE

Twee topamptenare van die Gautengse gesondheidsdepartement wat by die skandaal oor persoonlike beskermende toerusting (PPE) betrek word, is beveel om byna R30 miljoen aan die staat terug te betaal.

Die beleërde presidensiële woordvoerder Khusela Diko is op spesiale verlof geplaas nadat die Gautengse departement van gesondheid glo ’n tender van R125 miljoen aan die onderneming Royal Bhaca Projects van Thandisizwe Diko, haar man, toegeken het. Foto: Tebogo Letsie

Boonop is die departementshoof, Mkhululi Lukhele, en voormalige finansiële hoof, Kabelo Lehloenya, se pensioengeld bevries.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se spesiale tribunaal voer aan dié geld is onregmatig aan die maatskappy Ledla Structural Development betaal. Volgens die SOE moet Lehloenya en Lukhele daarvoor aanspreeklik gehou word; nie die LUR, dr. Bandile Masuku, nie.

Rapport se susterkoerant, City Press, het ’n dagvaarding van die SOE-tribunaal gesien wat lui Lehloenya het ook pryse van die maatskappy Royal Bhaca Projects se PPE-kwotasie aangepas. Een voorbeeld is die prys van spesiale vullissakke wat van 95c tot R7 elk verhoog is.

Royal Bhaca behoort aan Thandisizwe Diko, wie se vrou, Khusela, die presidensiële woordvoerder is. Sy vennoot is Loyiso Masuku, die LUR se vrou. Khusela Diko en die LUR is albei uit die ANC se provinsiale uitvoerende komitee geskors en sy is ook nog met verlof.

Lehloenya het bedank nadat die ongerymdhede aan die lig gekom het.

Royal Bhaca het aan die tenderproses onttrek, volgens Khusela Diko omdat sy vir haar man gesê het dit plaas haar in ’n moeilike posisie weens haar werk.

Die kontrak is toe toegeken aan Ledla Structural Development – waarmee Royal Bhaca bande het – om glo die Diko’s se betrokkenheid te verdoesel. Gevolglik het Royal Bhaca minstens R80 miljoen gekry wat binne ’n week in 12 betalings van tussen R120 000 en R38 miljoen gemaak is.

Boonop was Ledla nie op die oorspronklike lys van 75 maatskappye wat suksesvol vir PPE-kontrakte van R2,2 miljard getender het nie.

Die SOE sê Lukhele en Lehloenya moet aanspreeklik gehou word vir ’n bedrag van R29 676 709,10 wat aan die staat terugbetaal moet word.

Die SOE ondersoek nóg ’n PPE-kontrak van R127 136 000 wat glo sonder ’n mededingende tenderproses deur Lehloenya aan die maatskappy Bea-dica toegeken is.

Die SOE het bevind Lukhele het versuim om tugstappe teen Lehloenya te doen nadat die moontlike ongerymdhede by hom aangemeld is.

Die SOE het reeds ’n tydelike bevel bekom om die betrokke maatskappye se bankrekeninge en amptenare se pensioengeld te bevries.

Lukhele kon nie vir kommentaar bereik word nie. Lehloenya se prokureur, Eric Mabuza, sê sy ontken die bewerings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.