Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
2 beseer by sentrum terwyl rowers al skietende vlug

“Here, asseblief, laat ek veilig hier uitkom.”

Patroondoppies het in die sentrum agtergebly.Foto: Verskaf

Kelly Minnie (22) het net daar in die aantrekhokkie van ’n klerewinkel begin bid toe sy Maandagmiddag skote hoor klap het.

Eers was daar net een skoot. So drie sekondes stilte het gevolg, toe nog twee skote.

Die rowers was glo met onder meer hael- en aanvalsgewere gewapen. Foto: Verskaf

“En toe hoor ek net ka-ka-ka. Ek dink meer as tien skote,” sê sy.

“Ek het begin bid. My klere baie vinnig aangetrek. En ’n boodskap aan ’n vriendin gestuur om saam te bid,” sê sy minute nadat sy en ander inkopiegangers deur agterdeure uit die East Rand Mall in Boksburg na veiligheid gelei is.

Luidens bronne is minstens twee mense in die voorval beseer nadat ’n skietery tussen die polisie en die aanvallers losgebreek het.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê minstens agt rowers, gewapen met hael- en aanvalsgewere, het net voor 13:00 die juwelierswinkel ingestorm en wapens op die veiligheidswag gerig.

“Hulle het ook die personeel aangehou en juweliersware gesteel,” sê hy.

Die polisie het opgedaag terwyl die rowers nog hul buit ingepak het. Die rowers het al skietende op die vlug geslaan.

“Een van die mans wat trollies buite die sentrum stoot, is in die voet geskiet toe die rowers na buite gestorm het.

“Die rowers het ’n Toyota Corolla buite die sentrum gekaap, wat later verlate naby Ellispark gevind is,” sê Masondo.

Volgens André Snyman van eBlockwatch, ’n organisasie wat misdaad help bekamp, het die rowers tydens hulle vlugtog ook iemand in die proses raakgery.

Die rowers het ’n spoor van verwoesting en stukkende winkelvensters in die East Rand Mall agtergelaat.Foto: Verskaf

Minnie sê die hele voorval het skaars tien minute geduur.

Sy doen haar internskap by Netwerk24 se Sondagkoerant, Rapport, en was Maandag af.

“Ek was besig om klere aan te pas toe die skote begin klap. Ek het vinnig my eie klere aangetrek en die gordyn effens weggetrek om te loer.

“Twee vroue het in die aantrek-area ingehardloop gekom. Iemand het gesê die rowers is op pad na die klerewinkel. Hulle het glo teen die venster geslaan en geskiet.

“Ek het gebid, gedink hierdie is nie hoe ek my Maandag wou deurbring nie.

“Ek het ook vir ’n vriendin ’n boodskap gestuur,” sê Minnie.

Dit het gelui: “911

ASB bid . . .

Ek is in die mall . . .

En het nou net geweerskote gehoor . . .”

Die klerewinkel het sy deure toegemaak en oor die interkom aangekondig: “Code Green, please evacuate.”

Minnie sê winkelpersoneel was onseker waar die aanvallers was en het daarom die klante deur die agterdeur uitgelei.

“Ons is so vinnig verby die vensters van die winkel, daar was nie tyd om te kyk of ek iets kan sien nie.”

Kelly Minnie (Die foto is nie tydens die aanval of in die East Rand Mall geneem nie.) Foto: Verskaf

Buite die sentrum het nog inkopiegangers en winkelpersoneel gewag terwyl die polisie die sentrum gefynkam het.

Die East Rand Mall-bestuur sê in ’n verklaring dat ’n juwelierswinkel van ’n onbekende hoeveelheid goedere beroof is.

“Ongelukkig is ’n inkopieganger en ’n trollie-assistent in die voorval beseer. Die aard van hul beserings kan nie in die stadium bevestig word nie,” lui die verklaring.

Hiervolgens was die polisie teen laatmiddag steeds op die toneel.

“Ons bedank ook (die sentrum se) veiligheidsdiens vir hul vinnige optrede,” sê die bestuur in die verklaring.

* Enigeen met inligting kan hul naaste polisiekantoor of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

Meer oor:  Rowers  |  Skietvoorval  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.